Nuus 13:00
BULLETIN 1 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra kiesers om te registreer ter voorbereiding van stemdag
# Kommissaris Makhubu se vyfjaartermyn by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens begin
# En ten slotte, Banksy rig ’n standbeeld van ’n vlagswaaiende man in sentraal-Londen op
# Die ANC verwelkom 4 November 2026 as stemdag vir die munisipale verkiesing. Die party sê die aankondiging bied sekerheid en laat politieke partye en die Verkiesingskommissie toe om deeglik voor te berei. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri maan alle wettige kiesers om aan die demokratiese proses deel te neem. Sy bevestig die ANC se toewyding om met gemeenskappe kontak te maak en diensleweringsprobleme aan te spreek:
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê Suid-Afrika kan nie Werkersdag vier terwyl miljoene mense werkloos is nie. Hill-Lewis het die hoë nasionale werkloosheidsyfer beklemtoon en sê baie landsburgers het nie toegang tot werk en waardigheid nie. Hy sê die laer werkloosheidsyfer in die Wes-Kaap bewys dat regering werkskepping beïnvloed. Hy sê ekonomiese groei, betroubare infrastruktuur en beleggersvertroue is belangrik vir werkskepping en om die land se toenemende werkloosheidskrisis aan te spreek:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se nuwe kommissaris, Johnstone Makhubu, se vyfjaartermyn begin vandag. Hy volg Edward Kieswetter op wie se termyn gister verstryk het. Makhubu was sedert 2023 adjunkkommissaris en het meer as 17 jaar se leierskapservaring. Hy sal na verwagting voortgaan om die Inkomstediens se modernisering te bevorder en voortbou op hervormings wat institusionele krag moet herstel.
# Die vakbond POPCRU veroordeel die moord op ‘n misdaadintelligensie-beampte in Mount Edgecombe, KwaZulu-Natal. Die vakbond sê die lokval waarin nog ʼn beampte gewond is, weerspieël die toenemende bedreiging teen wetstoepassers. POPCRU vra dringende verbeterings van veiligheidsmaatreëls, hulpbronne en intelligensiebeskerming. Hy vra owerhede om die oortreders vinnig vas te trek en waarsku dat aanvalle op beamptes die oppergesag van die reg en openbare veiligheid ondermyn.
# Krieket: Indië se beheerliggaam, die BCCI, oorweeg streng optrede teen die Indiese Premierliga-span Rajasthan Royals, sy ander spelers en beamptes nadat die IPL sy kaptein, Riyan Parag, met 25-persent van sy wedstrydfooi beboet het omdat hy in die kleedkamer gedamprook het. Dit het gebeur tydens die wedstryd teen Punjab Kings. Damprook is onwettig in Indië. Rajasthan se bestuurder, Ravinder Singh Bhinder, is vroeër ook beboet omdat hy sy selfoon in die spanbank gebruik het tydens ‘n kragmeting. Die IPL sê Parag het ook een strafpunt gekry.
# En ten slotte, Banksy het gister bevestig dat hy die groot standbeeld op ʼn voetstuk naby die Mall in die seremoniële hart van Londen opgerig het. Dit beeld ʼn man uit wat ʼn vlag swaai wat oor sy gesig waai. Banksy se handtekening is op die voetstuk. ʼn Video op die ontwykende straatkunstenaar se Instagram, wys dit is van ʼn tipe lae-bak-vragmotor afgelaai. Die figuur in ʼn pak klere se sig word deur die vlag versper. Een voet is oor die rand van die voetstuk en skep die indruk dat hy wil afklim. Mense bespiegel dat die werk blinde patriotisme uitbeeld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….