Nuus 07:00
BULLETIN 2 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vergader gereeld met die Madlanga-kommissie oor hul vordering
# Minister Manamela onthul ‘n begroting van 443-miljard-rand vir Hoër Onderwys
# En atletiek: Suid-Afrika is gereed om sy titels by die 2026 Wêreldafloskampioenskap te verdedig
# President Cyril Ramaphosa sê hy is gereeld in kontak met die Madlanga-kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, oor sy vordering met die ondersoek na vermeende politieke inmengery by die regstelsel. Ramaphosa sê tydlyne is vasgestel en effens verleng, met voortgesette besprekings van die kommissie se behoeftes. Hy sê hy het vertroue in die kommissie se sukses, en beklemtoon dat die regering voortgaan om die werk te ondersteun en aanspreeklikheid te verseker:
# Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, het ‘n begroting van 443-miljard-rand oor die medium termyn vir die 2026/27 Jaarlikse Prestasieplan aan die Parlement voorgelê. Manamela sê die plan ondersteun ʼn vaardigheidsrewolusie wat studente se sukses wil verbeter, TVET-kolleges uitbrei, die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente versterk en opleiding in ambagte bevorder. Hy erken die Ouditeur-generaal se kommer en sê hulle is besig met regstellende optrede. Die departement sê hulle fokus op meetbare uitkomste, aanspreeklikheid en om onderwys aan werkskepping en ekonomiese groei te koppel.
# Die Gautengse verkeerspolisie waarsku die publiek om hierdie naweek voorkeur te gee aan padveiligheid. Owerhede verwag oor die langnaweek groter padverkeer en sosiale aktiwiteite in die provinsie. ʼn Woordvoerder van Gauteng se verkeerspolisie, Sello Maremane, raai motoriste aan om verkeersreëls na te kom, nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie en seker te maak voertuie is padwaardig omdat meer patrollies op paaie sal wees om padveiligheid te verseker:
# Die Afrika Mayibuye Movement het Johnstone Makhubu gelukgewens met sy aanstelling as hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Sy termyn van vyf jaar het gister begin. Die beweging vra streng optrede teen belastingbasis-erosie, onwettige finansiële vloei en oordrag-prysbepaling. Hy vra ook hervorming van digitale belastinginvordering, BTW-nakoming en institusionele integriteit. Mayibuye beklemtoon die behoefte aan die modernisering van stelsels en versterking van openbare vertroue. Hy sê ʼn sterk inkomstediens is noodsaaklik vir ekonomiese groei en dienslewering.
# Honderde betogers het in ʼn afgeleë dorp met Australiese nooddienswerkers slaags geraak na die dood van ʼn vyfjarige meisie uit die inheemse bevolking. Sy is Saterdag as vermis aangemeld nadat sy van haar huis aan die buitewyke van Alice Springs verdwyn het. Haar liggaam is Donderdag gevind. Die man wat haar na bewering vermoor het, is in polisie-aanhouding nadat plaaslike inwoners hom gevind en erg aangerand het. Australië probeer dekades lank ʼn goeie verhouding met sy inheemse bevolking kweek wat reeds meer as 50-duisend jaar daar woon maar deur Britse koloniale magte gemarginaliseer is.
# En atletiek: Span Suid-Afrika is gereed om sy wêreldtitels te verdedig by die 2026 Wêreldatletiek-afloskampioenskap in Gaborone, Botswana, wat vanmiddag begin. Suid-Afrika is die verdedigende kampioen in die mans se 4×100 meter en 4×400 meter-items. Hoewel sleutelatlete soos Wayde van Niekerk weens ‘n besering die byeenkoms misloop, sal sterre soos Akani Simbine en Zakithi Nene die aanval lei. Benewens medaljes, beoog die span om te kwalifiseer vir die 2026 Wêreldatletiekkampioenskappe wat in September in Hongarye gehou sal word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….