Nuus 06:00
BULLETIN 30 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering vra die publiek om onwettige immigrasie deur wetstoepassingskanale aan te meld
# Wapens word gesteel tydens ‘n inbraak by ‘n weermagbasis in Pretoria
# En twee Joodse mans is in ‘n terroriste-voorval in Noord-Londen met ’n mes gesteek
# Die regering doen ‘n beroep op die publiek om onwettige aktiwiteite by wetstoepassingsowerhede aan te meld en nie die wet in eie hande te neem nie. Die pleidooi volg na voortgesette openbare aktiwiteite oor die onwettige immigrante-kwessie, insluitend protesoptogte deur die groep teen onwettige migrasie, March and March. Die adjunk-regeringswoordvoerder William Baloyi sê kommer oor immigrasie en ander onwettige gedrag moet aan die polisie of toepaslike departemente aangemeld word sodat dit wettig en veilig hanteer kan word:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê beter koördinering is nodig tussen die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Nasionale Tesourie met wêreldwye olieprysskokke as gevolg van spanning in die Straat van Hormoes. Volgens die buro kan tydelike brandstofheffingverligting help om inflasie laer te hou en druk op rentekoerse te verminder. Die buro het bygevoeg dat nouer fiskale en monetêre koördinering nodig is om inflasie te beheer en met ekonomiese groei te balanseer te midde van voortgesette wisselvalligheid in die prys van brandstof.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng het die vonnisse verwelkom wat opgelê is aan die voormalige Zimbabwiese president, wyle Robert Mugabe, se seun Bellarmine Mugabe en sy medebeskuldigde, Tobias Matonhodze. Die Alexandra-landdroshof het Mugabe tot 24-maande tronkstraf of ‘n boete van 600-duisend-rand gevonnis vir vuurwapen- en immigrasie-oortredings. Sy neef Matonhodze is drie jaar tronkstraf opgelê vir poging tot moord. Dit hou verband met ‘n skietery in Hyde Park in Februarie. NVG-woordvoerder Magaboke Mohlatlole sê hulle wens die vervolgingspan geluk met die suksesvolle vervolging:
# ’n Ernstige sekuriteitskending word ondersoek ná ’n inbraak Maandag by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se Tekbasis-fasiliteit by die Lyttelton Militêre Basis in Pretoria. ‘n Stoorkamer is oopgebreek en drie R4-gewere en twee 40-millimeter-vuurpylwerpers word vermis. Die ondersoek duur voort, en verdere verifiëring is aan die gang om vas te stel of nog items vermis word. Die SANW doen ‘n beroep op die publiek om te help met inligting.
# Twee Joodse mans is gister in die Golders Green-gebied van Noord-Londen met ‘n mes gesteek, wat die polisie amptelik as ‘n terroriste-voorval verklaar het. Die slagoffers, 76- en 34-jaar-oud, is in ‘n bestendige toestand in die hospitaal. Hierdie voorval volg op ‘n vlaag antisemitiese aanvalle in Brittanje. Die hoof van teen-terrorismepolisiëring, assistent-kommissaris Laurence Taylor, sê die 45-jarige verdagte het ook probeer om polisiebeamptes te steek en is met ‘n skokpistool geskiet voordat hy vir poging tot moord in hegtenis geneem is:
# Rugby: Die Stormers sal vir die res van die Verenigde Rugbykampioenskap sonder die Springbok-skrumskakel Cobus Reinach en die tienerster Markus Muller, moet klaarkom. Reinach het ‘n kniebesering teen Glasgow Warriors opgedoen en sal na verwagting ook die Bokke se Nasieskampioenskap-toetse teen Engeland, Skotland en Wallis misloop. Muller, wat verlede naweek sy debuut vir die Kaapstad-span gemaak het, het sy vinger gebreek. Hy is ook nie beskikbaar vir die Junior Bokke in die huidige Onder-20 Rugbykampioenskap in Gqeberha in die Oos-Kaap nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-915-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-551-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 110-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….