Nuus 08:00
BULLETIN 26 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Donald Trump is veilig ná ‘n skietery by die Withuis se korrespondente-dinee en die verdagte is in aanhouding
# Premier Panyaza Lesufi aanvaar Nkhwashu se verskoning ná bewerings oor vals dossiere
# En, rugby: Die Stormers is terug ná verlede week se nederlaag en vermorsel vir Glasgow
# Ons begin hierdie bulletin met nuus uit die buiteland:
President Donald Trump en die presidentsvrou Melania Trump is Saterdagaand inderhaas deur geheime diensagente uit die Withuis-korrespondentevereniging se dinee geneem, nadat ‘n man met ‘n haelgeweer probeer het om die lokaal binne te kom. Die gewapende man het op ‘n lid van die geheime diens geskiet wat nie beseer is nie. Die geleentheid is deur tweeduisend-600 mense bygewoon en uiteindelik gekanselleer. Trump het op sosiale media gesê hy hoop die dinee kan binne 30 dae herskeduleer word. Saterdag was die eerste keer dat Trump die korrespondente-dinee as president bygewoon het.
CBS News berig die verdagte is vermoedelik ‘n 31-jarige man van Torrence, een van die suidwestelike voorstede van Los Angeles in Kalifornië. Hy word in ‘n nabygeleë hospitaal behandel en is in polisie-aanhouding. Tydens ‘n perskonferensie het Trump se prokureur-generaal, Todd Blanche, gesê die man sal binnekort aangekla word.
# Die Gautengse premier Panyaza Lesufi het die geskorste Tshwane Metropolisie-brigadier, Abraham Nkhwashu, se verskoning aavaar nadat hy beweer het hy het opdrag gekry om moorddossiere in te dien, insluitend die een van die Armand Swart-saak in Vereeniging. Nkhwashu het getuig hy het ‘n opdrag ontvang om sekere saakdossiere in te samel en aan die provinsiale kommissaris, Tommy Mthombeni, te gee, en gesinspeel dat Lesufi betrokke was. Nkhwashu het sy verklaring teruggetrek en formeel om verskoning gevra nadat Lesufi die bewerings ontken het.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê ‘n verdere sewe amptenare is afgedank, wat die totaal sedert Julie 2024 op 63 te staan bring. Die Departement het ook 16 nuwe skorsings uitgereik as deel van voortgesette tugstappe in verband met bevindinge deur die Spesiale Ondersoekeenheid. Hy sê 75 van die 95 wangedragsake is afgehandel. Schreiber sê geen korrupsie is aanvaarbaar nie en die teen-korrupsie-optrede herstel integriteit en versterk die aanspreeklikheid in die departement:
# Die DA in Merafong vra inwoners om voor Donderdag volgende week bewyse in te dien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se ondersoek na Gauteng se waterkrisis. Die kommissie ondersoek beweerde diensleweringsmislukkings, infrastruktuurineenstorting en moontlike menseregteskendings. Ina Cilliers van die DA sê meer as 500 beëdigde verklarings is reeds in Julie 2025 ingedien en doen ‘n beroep op meer gemeenskapsinsette deur middel van opnames en beëdigde verklarings wat water- en sanitasiemislukkings uiteensit:
# En, rugby: Die Stormers het van verlede week se nederlaag teen Connacht herstel met ‘n oortuigende vertoning en die Glasgow Warriors Saterdagmiddag met 48-12 in die Kaapstad-stadion vermorsel. Die Stormers het ses drieë teenoor Glasgow se twee gedruk en is weer bo-aan die punteleer van die Verenigde Rugbykampioeskap met nog twee wedstryde oor. Springbok-skrumskakel Cobus Reinach is egter onverwags beseer en sal dalk lank buite aksie wees. Hy het uitstekend gespeel, maar het die veld in die tweede helfte verlaat met wat na ‘n ernstige kniebesering lyk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….