Nuus 09:00
BULLETIN 26 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die skieter by die Withuis korrespondente-dinee het alleen opgetree
# Onlangse data toon daar is weekliks duisende kuberaanvalle in Suid-Afrika
# En rugby: Handre Pollard se strafskop red die Bulle in Llanelli
# Enkele ure nadat president Donald Trump van die verhoog af gehaas is ná ‘n skietvoorval tydens die Withuis-korrespondentevereniging se dinee, is meer besonderhede oor die skieter bekendgemaak. Trump het tydens ‘n nuuskonferensie by die Withuis gepraat, terwyl die burgemeester en wetstoepassingsbeamptes ook die media toegespreek het. CNN berig die gewapende verdagte is in hegtenis geneem en geïdentifiseer as Cole Tomas Allen, ‘n 31-jarige van Kalifornië. Die polisie sê die verdagte het verskeie wapens gehad toe hy ‘n Geheime Diens-kontrolepunt bestorm het. Die burgemeester, Muriel Bowser, sê owerhede het geen rede om te glo daar was iemand anders betrokke nie. Die man ontvang tans behandeling in ‘n plaaslike hospitaal.
# Die Departement van Basiese Onderwys verwerp bewerings op sosiale media oor openbare skole wat van 28 tot 30 April 2026 sal sluit, en sê dis fopnuus. Die departement sê skole sal normaalweg voortgaan, tot voor Werkersdag Vrydag, wat ‘n vakansiedag is. Owerhede doen ‘n beroep op ouers, leerders en opvoeders om slegs staat te maak op amptelike inligtingsbronne, waarsku teen waninligting en beklemtoon dat alle openbare skole volgende week ten volle operasioneel moet bly.
# Die EFF het Mgcini Tshwaku van sy pligte as Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid onthef en hom herontplooi as die party se Hoof van Verkiesings in die Gautengse Wetgewer. Hy is erken vir die stabilisering van die Johannesburgse Metropolisiedepartement en die verbetering van noodreaksiedienste. EFF Gauteng se provinsiale sekretaris, Moshe Segatike Koma, is ingesweer as ‘n proporsionele verteenwoordigingsraadslid en sal die portefeulje vir Openbare Veiligheid by Tshwaku oorneem. Die party sê die herskommeling vorm deel van voorbereidings vir die komende munisipaleverkiesing later vanjaar.
# Suid-Afrikaanse organisasies het vroeg hierdie jaar reeds geworstel met meer as twee-duisend-100 kuberaanvalle weekliks, ‘n toename van 36-persent jaarliks, gedryf deur KI‑gedrewe bedreigings en gyselware. Die regering en finansiële en verbruikersektore is belangrike teikens. Kuberveiligheidsdeskundige en uitvoerende hoof van Clyrofor, Loyiso Boyce, het aan Newzroom Afrika gesê uitvissing bly die hooftoegangspunt vir klein en mediumgrootte ondernemings wat in gevaar is. Hy versoek sterker, KI-gedrewe verdedigingstelsels om die groeiende ingewikkeldheid van kubermisdaad teen te werk:
# Rugby: Die Leeus het Connacht Saterdag op Ellispark met 33-21 geklop en daarmee min of meer verseker dat hulle die uitspeelronde van ie Verenigde Rugbykampioenskap sal haal. Danksy die oorwinning skuif die span ook voorlopig na die derde plek op die punteleer, met die hoop op ‘n moontlike tuis-kwarteindstryd. Sake kan egter nog verander met hul laaste twee wedstryde in die kompetisie wat besoeke aan Limerick en Dublin insluit, waar hulle onderskeidelik teen Munster en Leinster sal speel.
Intussen het die Bulle Saterdagaand hul eerste oorwinning ooit teen die Scarlets in hul wedstryd in Llanelli behaal, en daarmee hul uitspeelhoop lewend gehou. Die skrale oorwinning van 23-21 was danksy ‘n strafskop in die 77ste minuut deur Springbok-losskakel Handre Pollard, wat 18 punte in die wedstryd aangeteken het. Hy het sy eie drie sowel as Cheswill Jooste s’n verdoel en ook drie waardevolle strafskoppe bygevoeg. Die Bulle het nou na die sewende plek op die VRK-punteleer geskuif met die Stormers boaan en die Leeus derde, en nog twee liga-rondes oor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….