Nuus 07:00
BULLETIN 24 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die skorsing van Masemola is ‘n noodsaaklike stap om die integriteit van die amp te beskerm
# Die VF Plus is skepties oor Puleng Dimpane se aanstelling as waarnemende Nasionale Polisiekommissaris
# En rugby: Die Junior Bokke sal volgende maand in ‘n nuwe internasionale Onder 20-reeks meeding
# Die DA verwelkom die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, se voorlopige skorsing en sê dis ‘n noodsaaklike stap om die amp se integriteit te beskerm. Masemola het Dinsdag in die hof verskyn in verband met die onregmatige toekenning van ʼn SAPD-gesondheidsdienskontrak van 360-miljoen-rand aan Medicare24. President Cyril Ramaphosa het die SAPD se finansiële hoof, Puleng Dimpane, as tydelike nasionale polisiekommissaris aangestel. Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê die SAPD kan voortgaan om te funksioneer terwyl die proses sy verloop neem:
Die Vryheidsfront Plus sê intussen die voorlopige skorsing van Masemola, wys hoe diep die geskiedkundige krisis in die polisiediens is. Hy staar aanklagte in die gesig wat verband hou met ʼn tender van 360-miljoen-rand van die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Wouter Wessels van die VF Plus sê hulle is skepties oor die aanstelling van die SAPD se finansiële hoof, Puleng Dimpane, as waarnemende polisiekommissaris:
# Die regering van die Wes-Kaap vra ‘n dringende hersiening van misdaadbestrydingpogings, met huidige pogings onder Operasie Prosper wat te min resultate lewer. Premier Alan Winde sê gemeenskappe het steeds te kampe met hoë misdaadvlakke ondanks voortgesette polisie- en militêre ontplooiing. Winde eis beter intelligensie-geleide polisiëring, sterker optrede teen bendes, verbeterde verslagdoening, en ‘n groter fokus op onwettige vuurwapens:
# President Donald Trump van Amerika het dié land se vloot opdrag gegee om op enige boot wat seemyne in die Straat van Hormoes stel, te skiet. Amerikaanse magte het vroeër vandeesmaand aangekondig hulle gaan vaartuie onderskep wat na of van Iranse hawens vaar. Sedert die blokkade begin het, het Amerika se Sentrale Bevel 31 vaartuie beveel om terug te draai of na ʼn hawe te vaar. Vrese bestaan dat Iran myne in die belangrike waterweg gestel het, maar dis nie bevestig nie. Trump sê Amerikaanse mynveërs is besig om die seestraat skoon te maak.
# Rugby: Kaapstad is in Mei gasheer vir ʼn nuwe internasionale Onder 20-reeks waaraan Suid-Afrika, Georgië, Fidji en Chili sal deelneem. Die reeks sluit drie dubbele wedstryd-dae by City Park in. Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê dit sal die laaste geleentheid wees om sy span af te rond vir die Junior Wêreldkampioenskap wat einde Junie in Georgië afskop. Hy sê spelers kry geleentheid om te speel, maar hy wil ook aan kombinasies werk terwyl hulle gereedmaak vir die wêreld-skouspel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-69-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-692-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse tegnologiemaatskappy, Meta, is besig om nuwe beheerfunksies bekend te stel wat ouers in staat sal stel om die onderwerpe te sien wat hul kinders met hul kunsmatige intelligensie-assistent bespreek. Die opdatering laat ouers ook toe om sekere KI-funksies te blokkeer of die gebruik van kletsbotte vir minderjariges af te skakel. Die maatskappy, wat Facebook, Instagram en WhatsApp besit, sê die doel is om veiligheid te verbeter terwyl tieners se privaatheid steeds gerespekteer word, namate kommer toeneem oor hoe jongmense KI-instrumente gebruik, insluitend kwessies rondom onvanpaste inhoud en emosionele afhanklikheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….