Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die laaste twee T20s tussen die Protea-vroue en Indië is net van akademiese belang nadat Suid-Afrika ook die derde wedstryd gewen het. Kaptein Laura Wolvaardt het die 17de honderdtal van haar loopbaan behaal en die Proteas tot ‘n oorwinning met nege paaltjies gelei op die Wanderers. Indië se kaptein, Harmanpreet Kaur, het 66 gemoker en die besoekers het 192 vir vier gehaal. Wolvaardt het daarna 115 van net 53 balle behaal en ʼn aanvangsvennootskap van 183 lopies met Suné Luus gedeel. Suid-Afrika het die teiken bereik met 21 balle oor.
# Rugby: ‘n Reusestryd word verwag in Saterdag se ontmoeting tussen die twee topspanne in die Verenigde Rugbykampioenskap in Kaapstad. Glasgow Warriors het ‘n voorsprong van slegs vier punte op die Stormers met drie groepwedstryde wat oorbly, met tuis-kwarteindstryde wat op die spel is. Die Stormers het verlede naweek teen Connacht verloor terwyl die Leeus Glasgow op Ellispark 54-12 verpletter het. Die Stormers se aanvalsafrigter, Dawie Snyman, sê die uitslag was as gevolg van die Leeus se goeie spel as en nie swakpunte in Glasgow se spel nie.
# Gholf: Die PGA-toer se uitvoerende hoof, Brian Rolapp, sê hulle sal bykomende maniere oorweeg om LIV-spelers wat wil terugkeer, terug te bring. Dit volg op berigte dat LIV-gholf sy finansiële ondersteuning van Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds kan verloor. Die vyfmalige major-wenner, Brooks Koepka, het LIV in Januarie verlaat en onder die program vir terugkerende lede weer by die PGA-toer aangesluit. 2018 se Meesterskampioen, Patrick Reed, sal na verwagting in Augustus weer by die toer aansluit. Rolapp sê hy stel belang in alles wat die PGA-toer beter maak.
# Sokker: Die mede-gasheer van die Wêreldbekertoernooi, Mexiko, het die versekering gegee besoekers sal veilig wees na ‘n skietery by die geskiedkundige Teotihuacan-piramides wat die lewe van ‘n Kanadese vrou geëis het. Dertien mense is beseer toe die aanvaller losgebrand en daarna sy eie lewe geneem het. Hy is na bewering beïnvloed deur gewelddadige voorvalle in die buiteland. Owerhede het daarna veiligheidsmaatreëls by toeriste-aantreklikhede verskerp. President Claudia Sheinbaum het besoekers se veiligheid gewaarborg. Die eerste plaaslike wedstryd word op 11 Junie in Mexikostad gespeel.
En ‘n senior gesant van die Amerikaanse president, Donald Trump, het FIFA versoek om Iran met Italië te vervang in die Wêreldbekertoernooi in dié land, Kanada en Mexiko. Italië het verlede maand teen Bosnië en Herzegovina verloor in sy laaste uitspeelstryd en die derde keer nie daarin geslaag om te kwalifiseer nie. Die Italiaans-gebore Paolo Zampolli het aan Financial Times gesê dit sal ‘n droom wees om die Azzurri in ‘n Amerikaanse toernooi te sien, en meen Italië het die agtergrond om insluiting te regverdig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….