Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na rugby: Die Springbok-sewes se kaptein, Impi Visser, sê hulle mik steeds na die perfekte vertoning al het hulle vier van die ses toernooie in die wêreldreeks gewen. Suid-Afrika gaan die naweek in Hongkong sy groepswedstryde teen Uruguay, Spanje en Argentinië speel in die eerste van drie wêreldkampioenskaps-toernooie. Visser sê daar is aspekte wat moet verbeter, en dis van die uiterste belang om voortdurend op die hoogste vlak te speel:
Nog rugbynuus: Die voormalige Springbok- en Bulle-afrigter Jake White soek nuwe geleenthede nadat hy sy pos as raadgewer verlaat het by Selborne College in KuGompu City, voorheen Oos-Londen, in die Oos-Kaap. Hy het ‘n rusie met skoolhoof, Andrew Dewar as rede aangevoer. Dis dieselfde rede wat tot Derek Page se bedanking as direkteur van rugby by die skool aanleiding gegee het. White sê hy was gefrustreerd deur Dewar se gebrek aan ondersteuning vir die skool se rugbyprogram. White, wat die Springbokke tussen 2004 en 2007 afgerig het, is voorheen deur die Bulle verwyder na ‘n spelersrevolusie.
# Swem: Aimee Canny en Pieter Coetzé is onder die ses swemmers wat kwalifiserende tye vir die Statebondspele behaal het op die tweede dag van die SA Swemkampioenskap in Gqeberha in die Oos-Kaap. Canny het kwalifiserende tye in die 200-meter vryslag en die 100-meter-borsslag behaal. Coetzé het onder die bepaalde tyd in die 50 en die 100-meter rugslag geswem. Erin Gallagher, Rebecca Meder, Jessica Thompson en Ruard van Renen het ook die lys van kwalifiseerders gehaal. Die Spele word van 23 Julie tot 2 Augustus in Glasgow, Skotland, gehou.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, lei ‘n ster-besaaide veld met vyf voormalige kampioene in die Johannesburgse Vroue Ope wat vandag op die Randpark-gholfklub afslaan. Alexander, wat in 2021 die laaste plaaslike kampioen van die toernooi en verlede jaar se naaswenner was, speel saam met landgenote soos Danielle du Toit, Gabrielle Venter en Nadia van der Westhuizen. Die Duitser, Celina Sattelkau, mik vir ʼn derde oorwinning in hierdie seisoen se toer, terwyl Lois Lau van Frankryk ook een van gunstelinge is om vanjaar se titel te wen.
# En tennis: Die tweemalige kampioen, Carlos Alcaraz, het aan die Barcelona-ope onttrek weens ‘n regter-gewrigbesering, wat vrese laat ontstaan oor sy deelname aan die Franse Ope. Die 22-jarige Spanjaard moes vandag teen die Tsjeg Tomas Machac speel, maar is aangeraai om te onttrek na mediese toetse. Dis die tweede keer in drie jaar dat ‘n besering hom uit die kleibaan-toernooi dwing. Alcaraz sê hy gaan so gou moontlik met herstel begin en hoop om reg te wees vir die komende toernooie in Madrid en Rome.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….