Nuus 12:00
BULLETIN 16 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf-jaar regstreekse tronkstraf vir Malema
# ActionSA vra die Openbare Beskermer om die Phala Phala-ondersoek te heropen
# En krieket: RCB is nou boaan die IPL-punteleer ná ‘n oorwinning met vyf paaltjies oor Lucknow
# Die Landdroshof in KuGompu City in die Oos-Kaap het die EFF-leier, Julius Malema, vyf jaar regstreekse gevangenisstraf opgelê en hom ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Hy is skuldig bevind aan verskeie aanklagte, insluitend die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n openbare plek sonder behoorlike rede tydens ‘n saamtrek in Mdantsane in 2018. Landdros Twanet Olivier het beslis dit is met voorafbedagte rade gedoen:
# ActionSA het die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, gevra om die Phala Phala-ondersoek te heropen na die deklassifisering van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se verslag. Dit het onthul dat lede van die Presidensiële Beskermingseenheid ‘n onwettige parallelle ondersoek gedoen het na die diefstal op president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo in 2020. Michael Beaumont van ActionSA sê Gcaleka se ondersoek moet fokus op die moontlike aanspreeklikheid van personeellede in die Presidensie:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê vroeë data dui aan die huidige massa-inentingsveldtog teen bek-en-klouseer lewer positiewe resultate op. Meer as twee-miljoen stuks vee is ingeënt tussen Februarie en 26 Maart en geen nuwe gevalle is aangemeld onder kuddes wat reeds behandel is nie. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê hulle het toesig versterk en ‘n gesentraliseerde aanmeldingstelsel ingestel wat lei tot vroeër opsporing en vinniger data-opname:
# Die Withuis het berigte ontken dat Amerika versoek het om die skietstilstand van twee weke met Iran te verleng. Dit volg na die aankondiging dat Iranse amptenare en Pakistan se militêre hoof, Asim Munir, vandag samesprekings in Teheran gaan voer om boodskappe tussen Iran en Amerika te bespreek sedert onderhandelings doodgeloop het. Die Withuis se woordvoerder, Karoline Leavitt, sê produktiewe samesprekings gaan voort oor ‘n moontlike tweede ronde vredesonderhandlings.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, het na eerste plek op die Indiese Premierliga-punteleer opgeskuif danksy ‘n oorwinning met vyf paaltjies oor Lucknow Super Giants. Die besoekers is vir net 146 uitgeboul nadat Rasikh Salam vier paaltjies geneem het en Bhuvneshwar Kumar drie. Mitchell Marsh se 40 was die hoogste telling. Die veteraan-kolwer Virat Kohli het die gasheer se lopie-jaagtog geanker met 49 en hulle het die teiken in die 16de boulbeurt bereik met vyf paaltjies plat. Rajasthan Royals is nou tweede en Punjab Super Kings derde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-723-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-811-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….