Nuus 13:00
BULLETIN 8 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pakistan gaan Vrydag onderhandelings tussen Amerika en Iran aanbied ná ‘n wapenstilstands-ooreenkoms
# Zuma neem sy stryd om regter Khampepe te verwyder na die Konstitusionele Hof
# En padwedlope: Meer as 30-duisend atlete word die naweek by die Twee Oseane-marathon verwag
# Pakistan se eerste minister, Shehbaz Sharif, sê onderhandelings begin Vrydag in Islamabad oor ‘n beslissende ooreenkoms om alle vyandighede tussen Amerika en Iran te besleg. Die twee lande het ooreengekom op ‘n wapenstilstand van twee weke, met Teheran wat instem tot die veilige heropening van die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes. Pakistan het as bemiddelaar opgetree. Iran sê sy tien-punt-voorstel sal die basis van die onderhandelings vorm. Sharif sê hulle hoop werklik die gesprekke in Islamabad sal volhoubare vrede in die Midde-Ooste meebring.
Oliepryse het intussen met meer as 13-persent gedaal namate geopolitieke spanning in die Midde-Ooste verlig het. Brent-ru-olie het gedaal van 109- tot onder 93-dollar per vat na die wapenstilstand. Die ooreenkoms om die Seestraat van Hormoes te heropen, het wêreldwyd verligting gebring, en Asiatiese aandelemarkte het met meer as vyf-persent verbeter. Ontleders waarsku egter pryse bly wisselvallig hangende ‘n langtermyn-diplomatieke oplossing. Die Internasionale Energie-agentskap oorweeg glo om meer as 182-miljoen vate se olie-reserwes vry te stel om markte te help.
Terug in Suid-Afrika:
# Oudpresident Jacob Zuma het die Konstitusionele Hof genader om regter Sisi Khampepe te verwyder as voorsitter van die Waarheids- en Versoeningskommissie-ondersoek. Die Hooggeregshof in Johannesburg het verlede maand ‘n aansoek van Zuma en sy voorganger, Thabo Mbeki, verwerp om Khampepe te verwyder en gelas die hoofregter se toestemming word benodig voor regstappe teen ‘n regter gedoen mag word. Zuma voer in sy aansoek aan die Konstitusionele Hof aan dat die Hooggeregshof ‘n fout begaan het deur nie aandag te skenk aan die meriete van die saak nie.
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid gaan voort met die verskerping van wetstoepassingsoperasies om padgebruikers se veiligheid te verseker en toe te sien dat vervoerregulasies nagekom word. Amptenare het die afgelope naweek onder meer ‘n bus van Zimbabwe met 51 passasiers voorgekeer omdat dit onpadwaardig was. Die departement se woordvoerder, Mashudu Mabata, sê alle vervoeroperateurs moet aan die wet voldoen, anders sal hulle met die gereg te doen kry:
# Padwedlope: Die Stad Kaapstad sê meer as 30-duisend atlete gaan na verwagting die naweek deelneem aan die Twee Oseane-marathon. Atlete spring Saterdag weg in die ikoniese ultra-marathon oor 56-kilometer. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Sondag se halfmarathon oor 21,1-kilometer neem deelnemers op ‘n roete deur die suidelike voorstede en eindig op die Universiteit van Kaapstad se rugbyveld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-802-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….