Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Toulon pak Glasgow Warriors Saterdag in die kwarteindronde van die Kampioenebeker sonder die legendariese All Black-senter Ma’a Nonu. Die 43-jarige is vir drie weke geskors na sy geelkaart vir ‘n gevaarlike duikslag op Wandisile Simelane in Toulon se oorwinning van 28-27 oor die Stormers in die ronde van 16. Nonu se skorsing is halveer nadat hy vuilspel erken het, en weens sy goeie dissiplinêre rekord. Hy mag weer op 27 April speel.
Nog rugbynuus: Die veteraan-voorspeler Courtney Lawes hoop dat sy eenjaarkontrak by Sale Sharks uiteindelik sal lei tot ‘n terugkeer na Engeland se nasionale span. Die 37-jarige het die laaste van sy 105 toetse in 2023 gespeel, toe hy ná die Wêreldbeker uit internasionale rugby getree het. Hy het in die Wêreldbeker in 2019 gespeel toe Engeland in die eindstryd teen die Springbokke verloor het, en het ook die Britse en Ierse Leeus in vyf wedstryde verteenwoordig. Hy keer terug na Engelse hoëvlak-rugby ná twee jaar by die Franse tweedeligaklub, Brive.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy, speel saam met Cameron Young en die amateur Mason Howell in die eerste twee rondes van die Amerikaanse Meesters-toernooi wat môre op Augusta in Georgië begin. Die Noord-Ier het verlede jaar sy loopbaan-Grand Slam behaal met sy oorwinning in ‘n uitspeelstryd. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, sal saam met die Skot Bob MacIntyre en sy landgenoot Gary Woodland afslaan. Verlede jaar se naaswenner, Justin Rose van Engeland, is saam met 2015 se wenner, Jordan Spieth, en die vyfmalige major-kampioen, Brooks Koepka.
Rose glo intussen hy kan steeds die toernooi wen op 45. Die Engelsman, wat in Johannesburg gebore is, se enigste major-titel was die Amerikaanse Ope in 2013 en die goue medalje op 2016 se Olimpiese Spele in Rio, maar hy het sedertdien tweede geëindig in drie verskillende Meesterstoernooie. Rose het sy 13de PGA-toertitel in Februarie op Torrey Pines verower en is vol vertroue hy het die vermoë om vanjaar se Meesters te wen.
# En padwedlope: Die Stad Kaapstad sê meer as 30-duisend atlete gaan na verwagting die naweek deelneem aan die Twee Oseane-marathon. Atlete spring Saterdag weg in die ikoniese ultra-marathon oor 56-kilometer. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Sondag se halfmarathon oor 21,1-kilometer neem deelnemers op ‘n roete deur die suidelike voorstede en eindig op die Universiteit van Kaapstad se rugbyveld:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….