Nuus 07:00
BULLETIN 29 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die ANC gebruik die Israel/Gaza-kwessie as ‘n verkiesingsfoefie
# Jacob Zuma sê uMkhonto weSizwe mik vir ‘n tweederde-meerderheid
# En rugby, die Blitsbokke se afrigter sê daar is lesse te leer uit die span se vertoning in Perth
# Die ANC is nou skaamteloos, brutaal en sonder om subtiel te wees besig om die Israel/Gaza-kwessie as verkiesingsfoefie te gebruik en dit kom neer op opportunisme. Dit is die mening van die politieke ontleder, Daniel Silke. Die Internasionale Geregshof het Israel beveel om op te hou om mense in Gaza in gevaar te stel en dood te maak. Dit volg nadat Suid-Afrika ‘n aansoek ingedien het waarin hy Israel van volksmoord beskuldig. Silke sê die ANC soek desperaat ʼn kwessie om goedkoop politieke punte aan te teken gegewe sy swak prestasie op die tuisfront:
# Die gewese ANC-president Jacob Zuma sê die uMkhonto weSizwe Party mik vir ʼn tweederde-meerderheid in die komende algemene verkiesing. Hy het ondersteuners van die nuwe party by ʼn saamtrek in KwaXimba in die weste van Durban toegespreek. Zuma, wat ʼn veldtog vir die party voer, sê die hoofprioriteit is grond en om mag terug te gee aan tradisionele leiers. Intussen is Zuma se moontlike skorsing uit die ANC die naweek deur die Nasionale Uitvoerende Komitee bespreek, maar geen vaste besluit is geneem nie.
# Die Grensbestuursowerheid sê hy het 15-duisend-924 individue voorgekeer wat Suid-Afrika in die 2023/2024-feestyd sonder die vereiste dokumente probeer binnekom het. Tussen die sesde van verlede maand en die 18de van hierdie maand het die agentskap meer as vyf-miljoen reisigers by 71 grensposte verwerk. Die agentskap se kommissaris, Mike Masiapato, sê ses-duisend-455 reisigers is toegang tot Suid-Afrika geweier omdat hulle ongewens is. Dit sluit diegene in wat misdade in ander lande gepleeg het en op Interpol se rooi lys is:
# Die voormalige Bafana Bafana-doelwagter, wyle Senzo Meyiwa, se moordsaak hervat vandag in die Hooggeregshof in Pretoria. Die hof het verlede week by die hoofondersoeker, Bongani Gininda, gehoor dat twee van die vyf beskuldigdes Meyiwa se vriendin, die sanger Kelly Khumalo, betrek het as die een wat hulle opdrag gegee het om die sokker-ster te vermoor. Hy het ook getuig kommunikasie-rekords tussen Khumalo en haar suster toon sy wou reeds in 2013 van Meyiwa ontslae raak. Hy is in 2014 in Vosloorus vermoor.
# Drie Amerikaanse soldate is dood en 25 beseer in ʼn hommeltuig-aanval in die noordooste van Jordanië naby die Siriese grens. Dis die eerste keer sedert die oorlog in Gaza begin het dat Amerikaanse soldate in die Midde-Ooste in vyandige aanvalle sterf. President Joe Biden sê hulle is steeds besig om feite oor die voorval in te samel, maar hulle weet dis uitgevoer deur radikale Iran-gesteunde militêre groepe wat in Sirië en Irak bedrywig is. Hy sê hulle sal almal wat aanspreeklik is, laat boet.
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Sandile Ngcobo, sê hy is tevrede met die manier waarop hulle die Perth-sewestoernooi in Australië afgesluit het. Die Blitsbokke het Frankryk met 24-5 verslaan en vyfde geëindig. Argentinië het hulle tweede agtereenvolgende toernooi gewen en hulle plek boaan die punteleer behou. Die Blitsbokke is na drie toernooie nou in die vierde plek saam met Ierland ná Australië en Fidji. Ngcobo sê met sulke taai kompetisie moet hulle klinies wees en in elke wedstryd alles gee:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-258-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-23-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….