Nuus 18:00
BULLETIN 2 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet keur die hersiening van die immigrasie- en burgerskapwette goed
# Die minister van Vervoer sê onveilige bestuur en onpadwaardige voertuie sal nie geduld word nie
# En, die versekeringsbedryf steek die eerste keer vyf-duisend-miljard-rand se bates onder bestuur verby
# Die Kabinet het die hersiene Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming goedgekeur. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê bestaande wette word in een raamwerk saamgevoeg om teenstrydighede te verwyder. Die beleid versterk visumhervormings, digitale stelsels en nasionale veiligheid, en die eerste veilige-land-beginsel word bekendgestel. Sy voeg by dit maak die afbakening van poste vir burgers moontlik, en balanseer dit met asielsoekers se reg om wettig te werk:
# Die minister van Vervoer Barbara Creecy waarsku onveilige bestuur en voertuigfoute sal nie hierdie Paasfees-reisperiode geduld word nie. Creecy het tydens die bekendstelling van die Paasfees-padveiligheidsveldtog op die N1 in Limpopo gesê spoed, bestuur onder die invloed, die versuim om veiligheidsgordels te dra en die bestuur van onpadwaardige voertuie is groot bydraers tot ongelukke. Sy vra motoriste om verkeerswette te gehoorsaam, te verseker hul voertuie is padwaardig en veiligheid voorop te stel in die vakansietydperk:
# Suid-Afrika se langtermynversekeringsbedryf het die eerste keer vyf-duisend-miljard-rand in bates onder bestuur oorskry en 5,2-duisend-miljard-rand bereik. Die groei is aangevuur deur sterk markprestasie in 2025. Versekeraars is steeds finansieel veerkragtig en hou reserwes ver bo regulatoriese vereistes. Die sektor het 626-miljard-rand se eise uitbetaal, wat polishouers ondersteun. Daar is egter toenemende kommer oor toenemende polisvervallings, met miljoene mense wat dekking verloor.
# Brittanje bied ‘n virtuele spitsberaad van ongeveer 35 nasies aan om diplomatieke en politieke strategieë vir die heropening van die Straat van Hormoes te bespreek. Die vergadering, onder voorsitterskap van die Minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, volg op die sluiting van die waterweg deur Iran uit vergelding vir die VSA-Israeliese aanvalle. Van die deelnemers sluit in Frankryk, Duitsland, Italië, Kanada, Japan, Australië, Suid-Korea, Nieu-Seeland, en die Verenigde Arabiese Emirate. Die sluiting het ‘n massiewe ontwrigting van globale energiemarkte veroorsaak, met ongeveer 20-persent van die wêreld se olie en gas wat normaalweg deur hierdie seestraat beweeg.
# Oekraïne het die Internasionale Olimpiese Komitee gevra vir ‘n ondersoek na die neutrale status van Russiese atlete, en beskuldig sommige van hulle dat hulle bande met die weermag het. ‘n Beperkte aantal Russiese en Belarussiese atlete is toegelaat om deel te neem aan die 2024 Somerspele in Parys en vanjaar se Winterspele in Noord-Italië op voorwaarde dat hulle nie aan die weermag verbind is of Rusland se inval in Oekraïne ondersteun nie. Oekraïne sê hulle het bewyse sommige van die atlete het nie by daardie reëls gehou nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-336-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-646-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….