Nuus 08:00
BULLETIN 3 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma betwis ‘n uitspraak oor die Waarheids- en Versoeningskommissie se ondersoek in die Konstitusionele Hof
# ActionSA vra vir die onmiddellike afdanking van minister Tolashe
# En 40 lande hou ‘n virtuele vergadering om die opening van die Straat van Hormoes te bespreek
# Oudpresident Jacob Zuma het ‘n dringende aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien waarin hy ‘n uitspraak van die Johannesburgse Hooggeregshof betwis. Die hof het sy poging om regter Sisi Khampepe as voorsitter van die apartheidsera se Waarheids- en Versoeningskommissie-ondersoek te verwyder, van die hand gewys. Zuma en oudpresident Thabo Mbeki kon voorheen nie daarin geslaag om haar te laat onttrek weens beweerde vooroordeel nie. Hulle het aangevoer dat haar vorige posisie as adjunkdirekteur van openbare vervolging beteken dat sy betrokke was by die beleid wat nou ondersoek word.
# ActionSA eis president Cyril Ramaphosa moet onmiddellik die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, afdank omdat sy na bewering vir die parlement gelieg het oor luukse voertuie wat na bewering van Chinese amptenare ontvang is vir die Vroueliga van die ANC. Die ANC het enige kennis van die ontvangs van die voertuie ontken. ‘n Ondersoek deur Daily Maverick het aan die lig gebring die motors is in die name van haar seun en dogter geregistreer. Dereleen James van ActionSA sê die minister se gedrag kan strafregtelike gevolge hê:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê die regering se bek-en-klouseer-entstofstrategie skiet tekort, aangesien slegs ‘n enkelstam-entstof vervaardig word in plaas van die beplande trivalente weergawe. Die organisasie waarsku die beperkte uitrol, wat slegs 20-duisend dosisse per week behels, beteken die risiko van infeksie duur voort en boere kan nog steeds ekonomiese verliese ly. Bennie van Zyl van die TLU SA sê die huidige uitrol is te stadig om die omvang van die uitbreking te behartig:
# ‘n Virtuele vergadering gister deur 40 lande, onder voorsitterskap van Brittanje, het gesamentlike optrede bespreek om die Straat van Hormoes te heropen en te keer dat Iran die wêreldekonomie gyselaar hou. Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, het gesê Iran se roekeloosheid om die waterweg te blokkeer, tref huishoudings en ondernemings in elke uithoek van die wêreld. Hoewel die vergadering geen spesifieke besluite geneem het nie, was daar eenstemmigheid dat Iran nie tolgeld vir die skepe wat die waterweg gebruik mag hef nie en dat alle nasies dit vrylik moet kan gebruik. Onder die deelnemers was Frankryk, Duitsland, Kanada, die Verenigde Arabiese Emirate en Indië.
# Rugby: Drie Suid-Afrikaanse spanne is die naweek in aksie in twee Europese kompetisies. Die Stormers en die Bulle speel in die Kampioenebeker, en die Haaie in die Uitdaagbeker. Die Stormers speel môremiddag teen Toulon in Frankryk in ‘n ronde van 16-wedstryd, terwyl die Bulle, wat met 14 Springbokke in hul toergroep versterk is, in Skotland teen die Glasgow Warriors in dieselfde ronde. Die Haaie speel vanaand teen Connacht in Ierland, ook in die Uitdaagbeker se ronde van 16.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut waarsku strandgangers om versigtig te wees tydens die volmaan-springgety wat seetoestande oor die Paasnaweek sal beïnvloed. Die gety sou gister ‘n hoogtepunt bereik, wat hoër hoogwater, laer laagwater en sterk sleurstrome sou meebring wat gevaarlik kan wees vir swemmers, hengelaars en kusstappers. Andrew Ingram van die instituut waarsku teen sterker sleurstrome en onveilige toestande langs strande en rotse:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….