Nuus 15:00
BULLETIN 2 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verbruikerskommissie bevestig die terugroep van meer as 500 Ford- en Toyota-voertuie
# Minister Macpherson prys Infrastruktuur Suid-Afrika vir die ontsluiting van ‘n groot belegging
# En sokker: ‘n Somber atmosfeer heers in sokkermal Italië nadat die span weereens die Wêreldbeker misloop
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het meer as 500 Ford- en Toyota-voertuie in Suid-Afrika teruggeroep weens veiligheidsgebreke. Die hoof van klagtes en ondersoeke, Prudence Moilwa, sê 438 Ford Ranger XLT- en Wildtrak-modelle, en 26 Ford Puma-eenhede word geraak weens moontlike enjin- en veiligheidstelselfoute. Toyota herroep 58 Hino 700-voertuie weens brandstofpomp-gebreke. Moilwa waarsku die probleme verhoog die gevaar van ongelukke en maan eienaars om gemagtigde handelaars te besoek vir gratis inspeksies en herstelwerk.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, verwelkom die regeringsagentskap, Infrastruktuur Suid-Afrika, se rol in die ontsluiting van ‘n beleggingsbelofte van 17-miljard-rand. Die internasionale landbouonderneming United Phosphorus Limited het die belofte op die Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie gemaak. Die belegging sal ‘n grootskaalse bio-etanolprojek met suikerriet en mielies ondersteun, werk skep, landelike ontwikkeling bevorder en boere bevoordeel. Macpherson sê die projek onderstreep die regering se rol in die verwydering van bottelnekke, die koördinering van belanghebbendes en om ekonomiese groei aan te wakker.
# Die vakbondfederasie COSATU het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gelukgewens met die invordering van ‘n rekord netto inkomste van twee-duisend-miljard-rand in die 2025/26-boekjaar. Dit oortref die teiken en toon ‘n toename van 8,4-persent teenoor die 1,855-duisend-miljard-rand wat in die vorige boekjaar ingevorder is. Matthew Parks van COSATU sê die Ontvanger het die rekord-inkomsteteiken bereik te midde van verskeie uitdagings, insluitend ‘n swak ekonomie:
# Die DA in Gauteng veroordeel die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake omdat hy meer as 670-duisend-rand se eiendomsbelasting en erfbelasting aan die Stad Johannesburg verskuldig is. Nico de Jager van die party sê die agterstallige skuld ondermyn plaaslike regering, vererger dienslewering en weerspieël wydlopende finansiële wanbestuur. Hy eis dringende verantwoording vir volle betaling om inwoners en munisipale dienste te beskerm:
# Sokker: Italiaanse media betreur wat hulle beskryf as die land se Wêreldbeker-vloek nadat die nasionale span nie kon kwalifiseer vir vanjaar se toernooi in Noord-Amerika nie. Die viermalige kampioen gaan ‘n derde agtereenvolgende Wêreldbeker misloop. Italië het Dinsdag met strafdoele teen Bosnië en Herzegovina verloor in die finale kwalfiserende wedstryd na hulle ook hulle vorige uitspeelwedstryde teen Swede en Noord-Masedonië verloor het. Die nederlaag het verontwaardiging in die sokkermal land veroorsaak, met politici wat eis dat die president van die beheerliggaam, Gabriele Gravina, moet bedank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-418-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-619-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….