Nuus 14:00
BULLETIN 2 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Intercape se hoof beweer die Mededingingskommissie vrees ‘n ondersoek na taxi-samespanning
# Die Parlement se regs-raadgewers waarsku oor wanadministrasie met Padongelukkefonds-betalings
# En krieket: Brook en Bethell van Engeland ontvang waarskuwings ná ‘n voorval in ‘n nagklub in Wellington
# Intercape se uitvoerende hoof, Johan Ferreira, beweer die Mededingingskommissie het geweier om samespanning deur taxiverenigings te ondersoek en sê die reguleerders is bang, al het hulle voldoende bewyse. Die opmerkings volg ná die inhegtenisneming van sewe mense wat verbind word met afpersing in die langafstand-vervoersektor. Ferreira sê owerhede se traagheid laat onmededingende praktyke voortduur, wat regverdige mededinging en passasiersveiligheid ondermyn:
# Die Parlement se regs-raadgewers is bekommerd oor die Padongelukkefonds wat begunstigdes regstreeks betaal en prokureurs omseil. Die raadgewer, Fatima Ebrahim, het aan die staande komitee oor Openbare Rekeninge gewaarsku dit kan wanadministrasie en finansiële wanbestuur aanwakker. Sy sê bevindings openbaar duplikaat-transaksies, onwettige deposito’s en onreëlmatige uitgawes, insluitend 340-miljoen-rand in dubbele betalings. Ebrahim sê die Spesiale Ondersoekeenheid het van die sake na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys:
# Cosatu dring daarop aan dat die regering sy beleggingsveldtog verskerp, aangesien die ekonomie hom staal vir ernstige wêreldwye beroering. Dit is weens die Midde-Oosterse konflik en die reusestygings in brandstofpryse. Matthew Parks van Cosatu sê hulle verwelkom die beleggingsbeloftes van byna 900-miljard-rand wat vroeër die week tydens die sesde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie gemaak is. Hy sê die beloftes is ‘n dapper mosie van vertroue deur plaaslike en internasionale beleggers in Suid-Afrika se toekoms:
# Krieket: Engeland se Krieketreguleerder het waarskuwings-kennisgewings uitgereik aan witbalkaptein Harry Brook en die veelsydige Jacob Bethell omdat hulle spelers se gedragskode oortree het. Brook het verlede jaar tydens die eendagreeks teen Nieu-Seeland ‘n onderonsie met ʼn nagklub-uitsmyter in Wellington gehad. Die 26-jarige het aanvanklik volgehou hy was alleen, maar later erken Bethell en die snelbouler Josh Tongue was ook by hom. Daar is nie verder teen Tongue opgetree nie. Die kennisgewings sal die volgende drie jaar op Brook en Bethell se tugrekords bly.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-364-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-616-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika se grootste banke het in 2024 sowat 90-miljard-rand aan belasting bygedra, wat byna vyf-persent van die algehele staatsinkomste uitmaak. Meer as die helfte van die bedrag is egter namens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingevorder. Volgens ‘n studie deur PwC en die Bankvereniging ondervind die sektor ook stygende nakomingskoste. Bedryfsleiers sê banke speel ‘n tweeledige rol as belastingbetalers en belastinginvorderaars, wat die fiskus aansienlik ondersteun terwyl hulle toenemende administratiewe en regulatoriese laste absorbeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….