Nuus 17:00
BULLETIN 31 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa stel ‘n reusebeleggingsveldtog van 900-miljard-rand bekend
# Belanghebbendes gevra om kommentaar te lewer oor die jongste voorstelle deur die Internasionale Handelsadministrasiekommissie
# En, Action Society sê verdeelde wetstoepassing maak geweldsmisdade moontlik
# President Cyril Ramaphosa sê beleggingsverbintenisse van byna 900-miljard-rand sal op die beleggingskonferensie in Sandton, Johannesburg aangekondig word, met ongeveer 222-duisend werksgeleenthede wat na verwagting geskep sal word. Hy sê die projek sal ekonomiese groei bevorder en help om stygende lewenskoste te verlig. Ramaphosa beklemtoon belegging moet gewone burgers bevoordeel en inklusiewe ontwikkeling bevorder. Hy herbevestig Suid-Afrika bly ‘n mededingende bestemming vir internasionale beleggers ondanks ekonomiese uitdagings:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, moedig belanghebbendes aan om insette te lewer oor die Internasionale Handelsadministrasiekommissie se jongste voorstelle. Dit sluit in ‘n verhoging in tariewe en die beëindiging van fase-besendings vir hernubare energie-onderdele, insluitend litiumbatterye, sonpanele en windtorings. Graham-Maré sê die voorstelle het ten doel om plaaslike vervaardiging te beskerm en 300 werksgeleenthede te verseker:
# Action Society het ‘n waarskuwing gerig nadat ‘n verdwaalde koeël die 13-jarige Firdous Kleinschmidt getref het terwyl sy in Kaapstad gewag het op haar skoolvervoer. Haar vermeende moordenaar, Lorenzo “Lolly” Brown, het verskeie ernstige aanklagte teen hom gehad, insluitend moord, maar hy is vrygespreek. Kaylynn Palm van die burgerregte-organisasie sê sistemiese mislukkings, verdeelde wetstoepassing, ‘n gebrek aan intelligensie-gedrewe ondersoeke en swak saakintegrasie het Brown toegelaat om voort te gaan met sy oortredings. Palm bepleit intelligensie-gedrewe wetgewing om herhaalde geweldsmisdade te voorkom:
# Italië het Amerikaanse militêre vliegtuie toestemming geweier om op die Lugmagbasis Sigonella in Sicilië te land voor dit na die Midde-Ooste vlieg. Reuters berig sommige Amerikaanse bomwerpers sou op die basis land voor dit na die oorloggeteisterde streek vertrek, maar dis nie seker wanneer nie. Italië se Ministerie van Verdediging het nie onmiddellik kommentaar gelewer nie. Opposisiepartye het die regering gevra om Amerikaanse gebruik van Italiaanse basisse te weier om betrokkenheid in die konflik te verhoed.
# Padwedlope: Die Keniaanse atleet Albert Korir is vir vyf jaar geskors nadat hy erken het hy het ‘n verbode middel gebruik. Die Atletiek-integriteitseenheid sê die 32-jarige het tydens toetse buite kompetisies positief getoets vir ‘n sintetiese middel wat die produksie van rooibloedselle verhoog. Die wenner van 2021 se New Yorkse Marathon sal tot 7 Januarie 2031 nie mag deelneem nie. Dit volg sewe maande nadat Korir se landgenoot en wêreldrekordhouer in die marathon, Ruth Chepngetich, geskors is vir die gebruik van die maskeringsmiddel, hidrochlorotiasied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-803-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-583-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….