Nuus 18:00
BULLETIN 31 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Enoch Godongwana stel die infrastruktuur-befondsingskantoor bekend
# Energie- en digitale hervormings in Suid-Afrika sal beleggersvertroue steun
# En, Cosatu loof SACCAWU se oorwinning oor Massmart
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die Programkantoor van die Agentskap vir Infrastruktuurbefondsing en Implementeringsondersteuning tydens die Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie in Sandton bekendgestel. Die projek word gelei deur die Nasionale Tesourie en vennote en wil infrastruktuurlewering bevorder deur middel van privaat befondsing en kundigheid. Dit sal belangrike programme stroomlyn, die uitvoer van projekte verbeter en openbare privaat vennootskappe versterk om druk op die fiskus te verminder en ontwikkeling te versnel.
# Suid-Afrika se Energie-aksieplan het beurtkrag aansienlik verminder en betroubaarheid vir besighede verbeter. President Cyril Ramaphosa het tydens die Beleggingskonferensie in Sandton hervormings uitgelig wat groot beleggings in hernubare energie ontsluit met die regering wat sonkrag-, wind- en batterykapasiteit sal uitbrei. ‘n Mededingende transmissienetwerk word gebou om langtermyn, lae-koolstof ekonomiese groei te ondersteun. Die president het ook Suid-Afrika se digitale infrastruktuur uitgelig wat sakebeleggings en vertroue verbeter:
# Die vakverbond Cosatu het die handels-, spyseniering- en verwante werkersvakbond, SACCAWU, gelukgewens met sy oorwinning in die Konstitusionele Hof oor Massmart se bestuur. Vakbondlede by Massmart het begin staak na mislukte loononderhandelings waar die Walmart-dogtermaatskappy geweier het om ‘n openingsaanbod ter tafel te lê, maar terselfdertyd aangedring het dat die vakbond sy eise verlaag. Cosatu-woordvoerder Zanele Sabela sê die vakbond het aan Massmart en sy moedermaatskappy, Walmart, bewys hy sal alles moontlik doen om werkers se regte te beskerm:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê lande soos die Brittanje wat as gevolg van beperkings rondom die Straat van Hormoes nie stralerbrandstof kan kry nie, moet moed bymekaarskraap, na die seestraat gaan en die olie net eenvoudig vat. Hy het op Truth Social gesê die VSA gaan lande wat geweier het om by die oorlog met Iran betrokke te raak nie help nie, net soos hulle Amerika nie wou help nie. Trump het ook Frankryk van onbehulpsaam beskuldig is omdat die land nie militêre voorraadvliegtuie op pad na Israel wou toelaat om oor Franse gebied te vlieg nie.
# Sokker: Amnestie Internasionaal waarsku dat die komende Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko gevaar loop om ‘n verhoog vir onderdrukking en outoritêre gebruike te word. ‘n Verslag deur die menseregte-organisasie beklemtoon ernstige beperkings op spraakvryheid en vreedsame betogings wat die veilige en inklusiewe toernooi bedreig wat FIFA beloof het. Woordvoerder Steve Cockburn sê daar is geen planne om ondersteuners te beskerm teen die Amerikaanse Immigrasie- en Doeane-afdwingingsgesag nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-086-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-608-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….