Nuus 17:00
BULLETIN 30 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voertuie is aan die brand gesteek terwyl betogers die selfverklaarde Nigeriese koning in Oos-Kaap se deportasie eis
# Die Departement van Vroue sê toegang tot geregtigheid is sleutel vir die beëindiging van die ekonomiese uitsluiting van vroue
# En, rowers steel Renoir-, Cézanne- en Matisse-meesterstukke binne drie minute in Italië
# Geweld het in KuGompo in die Oos-Kaap uitgebreek met betogings teen die selfverklaarde Nigeriese Igbo-koning. Voertuie en geboue, wat na bewering deur buitelandse burgers besit word, is aan die brand gesteek of beskadig. Tradisionele leiers het die optog gelei, vergesel deur die omstrede mediafiguur Ngizwe Mchunu asook March and March. Polisie is ontplooi om die skare uiteen te jaag, terwyl betogers waarsku hulle kan verdere stappe doen as die regering nie vinnig optree om die Nigeriese koning te deporteer nie.
Intussen sê ActionSA se parlementêre leier, Athol Trollip, Suid-Afrika se soewereiniteit moet beskerm word. ‘n Seremonie is in KuGompo gehou om die hoofman, Solomon Ogbonna Eziko, as die koning van die Igbo-mense in Oos-Londen te kroon. Trollip sê die stap ondermyn Suid-Afrika se Grondwet sowel as die erkenning van tradisionele leierskap:
# Die departement van Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede sê toegang tot geregtigheid vir vroue in Suid-Afrika bly ‘n kritieke faktor vir ekonomiese insluiting, maar word gereeld misgekyk. Hy sê vroue se kans op geregtigheid deur howe, regshulp en beskermingsmeganismies is noodsaaklik vir die ontsluiting van ekonomiese geleenthede. ‘n Woordvoerder van die departement, Cassius Selala, sê ten spyte van die land se gevorderde regstelsel, sukkel baie vroue in landelike gebiede steeds met duur regskoste, beperkte kennis en maatskaplike uitdagings:
# Skilderye ter waarde van miljoene euro’s deur Renoir, Cézanne en Matisse is gesteel in ‘n rooftog op ‘n museum naby die Italiaanse stad Parma. Die polisie sê vier gemaskerde mans het onlangs die Magnani Rocca-stigting se villa binnegegaan. Hulle was binne drie minute in en uit en slegs die museum se alarmstelsel het hulle onderbreek, wat hulle verhoed het om meer te steel. Die instelling is die jongste wat deurloop onder ‘n rooftog na die skaamtelose dagligroof van onskatbare juwele uit die Louvre in Parys in Oktober.
# Sokker: Die Kaapstadse stadion maak gereed vir môreaand se internasionale vriendskaplike wedstryd tussen Bafana Bafana en Panama, en die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, moedig ondersteuners aan om die treindiens te gebruik. Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika sal bekostigbare treindienste, parkeer-en-ry-geriewe en verhoogde veiligheid instel om die reis te vergemaklik. Sileku sê groot sportbyeenkomste is ‘n goeie manier vir inwoners om ‘n opgeknapte spoorstelsel te ervaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-866-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-565-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….