Nuus 13:00
BULLETIN 30 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof wys Zuma en Mbeki se aansoek van die hand om regter Khampepe te laat onttrek
# Ramaphosa sê Suid-Afrika is ‘n gunstige beleggingsbestemming
# En tennis: Zverev vervang Djokovic in die derde plek op die mans-wêreldranglys
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n aansoek van oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki van die hand gewys om regter Sisi Khampepe van die Waarheids- en Versoeningskommissie se ondersoek te laat onttrek. Hulle het vooroordeel, belangebotsing en wangedrag beweer. Hulle voer aan Khampepe se vorige rolle in die WVK en die Nasionale Vervolgingsgesag bring haar neutraliteit in die gedrang in die ondersoek na die vervolging van misdade uit die apartheids-era. Die uitspraak beteken sy sal voortgaan om voorsitter te wees van die kommissie wat vervolgings ondersoek wat stilgestaan het.
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is steeds ‘n gunstige beleggingbestemming terwyl beleggers na bestemmings kyk wat veerkragtigheid toon te midde van wêreldwye wisselvallige finansiële omstandighede. Die sesde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie begin môre in Gauteng. Die land het in die eerste vyfjaar-beleggingsveldtog van 2018 tot 2023 1,56-duisend-miljard-rand se beleggingsbeloftes ontvang. Ramaphosa skryf in sy weeklikse nuusbrief die regering wil deur die konferensie wys dat hy verbind is tot strukturele hervomring, beleidsekerheid en beleiduitvoering.
# Die Stad Kaapstad gaan die eerste munisipaliteit in Suid-Afrika word wat op groot skaal elektrisiteit by gelisensieerde energiehandelaars en samevoegers aankoop. Volgens ‘n nuwe energiehandelaar-tender sal 500 megawatt vir ‘n tydperk van een tot tien jaar aangekoop word van ʼn verskeidenheid kragopwekkings-tegnologieë, insluitend sonkrag, deur middel van kragaankoop-ooreenkomste. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê die sperdatum om tenders vir hierdie vernuwende projek in te dien, is 13 Mei:
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese regering gaan die belasting op brandstof die volgende drie maande halveer om die stygende energiepryse weens die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran te versag. Ongeveer 20-persent van die wêreld se olie en natuurlike gas vloei deur die Seestraat van Hormoes, waarvan die sluiting veroorsaak het dat regerings maatreëls begin instel om brandstof te bespaar. Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, sê heffings op swaar voertuie word ook opgeskort:
# Tennis: Alexander Zverev van Duitsland het die veteraan Novak Djokovic van Serwië in die derde plek op die mans-wêreldranglys vervang na hy die halfeindronde van die Miami-ope gehaal het, waar hy teen die uiteindelike kampioen, Jannik Sinner, verloor het. Die Italianer bly tweede agter die Spanjaard Carlos Alcaraz, wat in die ronde van 32 uitgeskakel is. Nog ‘n Italianer, Lorenzo Musetti, is vyfde en die Australiër Alex de Minaur sesde, gevolg deur die Kanadees Felix Auger-Aliassime, die Amerikaners Taylor Fritz en Ben Shelton, en die Rus Daniil Medvedev.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-530-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….