Nuus 06:00
BULLETIN 30 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die RNE wil Suid-Afrika na ‘n hoër vlak van ekonomiese groei neem
# Iran se parlementêre speaker sê die VSA beplan in die geheim ‘n grondaanval
# En Olimpiese Spele: Caster Semenya kritiseer die IOK vir die herinstelling van geslagstoetse
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid stel nywerheidsontwikkeling eerste om ekonomiese groei te dryf, werk te skep en die lewens van burgers te verbeter. Hy het gister die slottoespraak gelewer by die 11de ANC-verkiesingskonferensie in Limpopo. Premier Phophi Ramathuba is onbestrede verkies as die ANC se eerste vroulike provinsiale voorsitter in die provinsie. Ramaphosa het verklaar dat hierdie oomblik vereis dat die land binnelandse industriële krag bou:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê hy is vasbeslote om verhoogde ontplooiings en verskerpte grensbedrywighede by die 71 grensposte hierdie Paasnaweek toe te pas. Masiapato het tydens die onthulling van die owerheid se Operasionele Plan in Pretoria gesê dit sluit in groter verwerkingskapasiteit, vaartbelynde grenskontroles, asook gladde en versterkte sekuriteit om veilige en doeltreffende reisigersbeweging te fasiliteer:
# Bellarmine Mugabe se regspan het ‘n pleitooreenkoms met die Nasionale Vervolgingsgesag voorgestel wat hom tronkstraf vir poging tot moord en ander ernstige kriminele aanklagte sal laat vryspring. Die seun van voormalige president Robert Mugabe is in hegtenis geneem nadat hy verlede maand ‘n 23-jarige man in Johannesburg geskiet en beseer het. Volgens City Press het Mugabe se regspan die aanbod met ‘n betaling van 70-duisend rand tydens voortgesette onderhandelinge met die NVG ter tafel gelê. Die 32-jarige sal gedeporteer word terwyl Tobia Matonhodze tronkstraf sal uitdien.
# Die Wes-Kaapse premier Alan Winde het aan die Presidensie en die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne se kantoor geskryf en sy ernstige kommer gelug oor sommige verskaffers wat blykbaar toenemend brandstof terughou. Hy vra dat hulle dringend ingryp om bestendigheid te verseker en voorkombare ontwrigting te vermy in basiese sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Winde sê die terughouding van voorraad plaas die ekonomie en lewensomstandighede, veral in die provinsie se landbousektor wat verantwoordelik is vir 50-persent van die land se uitvoer, in groot gevaar.
# Iran se parlementêre speaker, Mohammad Bagher Ghalibaf, beweer die VSA beplan in die geheim ‘n grondinval, ten spyte van sy openbare deelname aan diplomatieke pogings wat daarop gemik is om die oorlog te beëindig. Dit volg nadat ‘n Amerikaanse vlootskip met drie-duisend-500 matrose en seesoldate Saterdag in die Midde-Ooste aangekom het, wat bydra tot die militêre teenwoordigheid reeds in die streek. Ghalibaf sê hulle is gereed vir Amerikaanse troepe en waarsku dat hulle verwoesting op hulle sal loslaat en hul streekbondgenote permanent sal straf. Hy het beklemtoon dat Iran enige konflik in ‘n les vir aggressors sal omskep.
# Olimpiese Spele: Die dubbele Olimpiese kampioen, Caster Semenya, het die Internasionale Olimpiese Komitee se herinstelling van geslagsverifikasietoetse vir die 2028 Los Angeles Spele gekritiseer en dit as ‘n gebrek aan respek vir vroue bestempel. Verlede week het die IOK die terugkeer van genetiese toetse aangekondig om die vroulike geslag te bepaal, wat in werklikheid transgender-atlete en ‘n groot aantal interseks-atlete uit vrouesport verban. Semenya het aan Sky News gesê dit is teleurstellend dat vroue moet bewys dat hulle waardig is om aan sport deel te neem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-671-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-500-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….