Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig MTN het ‘n aantal deurslaggewende aanstellings op sy raad gedoen. Die groep sluit vyf onafhanklike nie-uitvoerende direkteure met uiteenlopende ervaring in. Volgens MTN is die veranderinge deel van sy strategie om sy bedrywighede te verbeter en op groei te fokus.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor president Cyril Ramaphosa se waarskuwing aan SAKP-lede wat ook ANC-lede is, dat hulle slegs vir die ANC stemme kan werf vir die verkiesing. Dit volg nadat die SAKP besluit het om onafhanklik aan die verkiesing deel te neem.
Tweedens skryf die webblad minstens agt-miljoen Amerikaners het aan drie-duisend-300 geleenthede deelgeneem om te betoog teen president Donald Trump se outoritêre regeerstyl, streng immigrasiebeleid en die oorlog in Iran.
En laastens is daar nuus oor boewe in Italië wat meer as 400-duisend Kitkat-sjokoladestafies wat op pad was na Pole, gesteel het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, se skorsing van die voorsitter van die burgemeesterskomitee vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, raadslid Kholofelo Morodi, is deur ActionSA verwelkom. Die party het haar ook intussen geskors na ‘n assessering van haar gedrag, insluitend ‘n beweerde onbehoorlike verhouding met ‘n munisipale amptenaar en die gebruik van nie-amptelike bestuurskanale.
En tweedens word berig drie joernaliste is dood in ‘n Israelse aanval. Die voorval het in Suid-Libanon plaasgevind en die joernaliste het na bewering in ‘n gemerkte mediavoertuig gery.
# En Sowetan:
Berig Ramaphosa het die kabinet opdrag gegee om planne te beraam om burgers teen die uitwerking van die brandstofprysstygings te beskerm. Die minister van Finansies, Enoch Godongwane vorm deel van ‘n subkomitee om oplossings te soek.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die skielike dood van ‘n 32-jarige rugbyspeler van Barrydale, Hermin Bon. Hy het Saterdag na ‘n wedstryd in die kleedkamer inmekaargesak en is later in die hospitaal oorlede.
Dan skryf die koerant die Swartbergpas is steeds gesluit na die oorstromings die afgelope naweek. Daar is ernstige skade aan die padoppervlak. Meiringspoort is intussen vir verkeer oopgestel.
En laastens het die koerant ook nuus oor die groot Kitkat-diefstal.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die personeelhoof van die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, Mlungisi Lumka, het die burgemeester Babalwa Lobishe, beskuldig dat sy vir die Parlement gelieg het. Lumka sê daar is chroniese disfunksie in die munisipaliteit, insluitend onbeantwoorde korrespondensie en mislukkings in bestuur.
En tweedens skryf die koerant rioollekkasies veroorsaak grootskaalse visvrektes by die Swartkopsrivermonding.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf dit kom al hoe meer voor dat bejaardes by staatshospitale afgelaai word om daar sorg te ontvang.
En tweedens word berig skole sukkel om tariewe te betaal en het aansoek gedoen vir verligting.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië het meer as 17-miljard-rand bewillig vir die ontwikkeling van die Baynes-hidrokragprojek op die Kunenerivier om bestendige basiskrag te lewer.
En tweedens skryf die koerant agt weke van vroulike werknemers by die Universiteit van Namibië se kraamverlof van 12 weke is onbetaald.