Nuus 11:00
BULLETIN 28 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die brande in die Breedevallei- en Witzenberggebiede woed steeds buite beheer.
# Eskom ontsluit netwerkkapasiteit vir wind in die Wes- en Oos-Kaap
# En, ‘n SA Maatskaplike Houdings-opname toon moedeloosheid met die land se demokrasie
# Die Kaapse Wynlanddistriksmunisipaliteit se brandweerdiens berig die brande in die Breedevallei- en Witzenberggebiede woed steeds buite beheer. Die woordvoerder Jo-Anne Otto skryf die opvlamming toe aan ‘n sterk noordwestewind. Dit het die vlamme aangeblaas in Bainskloof en Fairy Glen, wat die brande wat voorheen onder beheer was weer laat uitbreek het. Otto sê die brand in Elandsberg sal hopelik vanself uitbrand:
# Eskom het ‘n inperking-bylae tot sy jongste Beoordeling van Opwekkings-konneksie-kapasiteit 2025-verslag uitgegee. Dit sal na verwagting netwerkkapasiteit vir wind-projekte in die Wes- en Oos-Kaap ontsluit. Die bylae is goedgekeur deur die Nasionale Energiereguleerder. Dit bepaal, met die aanvaarding van ‘n redelike aandeel van nie meer as tien-persent van kapasiteit nie, sal ‘n bykomende drie-duisend-470-megawatt netwerkkapasiteit beskikbaar gestel word vir wind-opwekking. Dit sluit in, twee-duisend-680-megawatt in die Wes-Kaap en 790-megawatt in die Oos-Kaap.
# Boere in Frankryk het gister hulle landwye betogings voortgesit en gehou by die dreigement van padblokkades om Parys. Hulle betoog oor regeringsmaatreëls wat nie aan hulle eise vir beter betaling en lewensomstandighede voldoen nie. Reuters berig eerste minister Gabriel Attal se regering het vroeër planne laat vaar om geleidelik staatsubsidies op diesel te verlaag, en ander stappe aangekondig om die druk te verlig waaronder sommige boere is. Frankryk se grootste landbou-unie, die FNSEA, sê die betogings sal voortduur en talle boere is steeds by padblokkades by belangrike paaie.
# Krieket: Sunrisers Eastern Cape se draaiboulers het hulle gehelp om die oorhand met vier lopies te kry oor M-I Cape Town in gister se SA20-kragmeting in Gqeberha. Sunrisers het die besoekers beperk tot 171 vir sewe nadat die tuisspan ‘n mededingende 175 vir ses in hulle 20 beurte aangeteken het. Gisteraand moes die Pretoria Capitals en die Joburg Super Kings met ‘n gelykopuitslag tevrede wees nadat reën hulle botsing in Centurion ontwrig het. Die kompetisie stuur af op ‘n interessante einde met die Capitals met tien punte, M-I Cape Town met nege en die Super Kings met agt, wat almal veg om die laaste uitspeelplek.
# En, om mee af te sluit: Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se Suid-Afrikaanse Maatskaplike Houdings-opname het ‘n gevoel van moedeloosheid onder die bevolking onthul rakende die land se 30-jarige demokrasie. Die verslag beklemtoon kommerwekkende tendense, insluitend ‘n afname in algemene lewensbevrediging, pessimistiese sienings oor die toekoms, en ‘n groeiende gevoel van hopeloosheid en moedeloosheid. Volgens Narnia Bohler van die raad dui die navorsing daarop dat byna 65-persent van die bevolking ontevrede is met die huidige stand van sake in die land:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….