Nuus 09:00
BULLETIN 13 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom gebruik bykomende hulpbronne vir herstelwerk in gure weersomstandighede
# Rugby: Die Stormers-23 het vyf veranderinge aangebring vir hul Curriebeker-kragmeting teen die Pumas
# En laastens: Miljoene sterrekykers in Europa beleef ‘n seldsame algehele sonsverduistering
# Eskom het in talle provinsies bykomende tegniese hulpbronne ingespan ná kragonderbrekings wat deur gure weerstoestande veroorsaak is. Swaar reën, sneeu, sterk wind en uiterste koue het in sommige dele van die land voorgekom. KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en die Vrystaat het deurgeloop onder weer-verwante probleme en skade aan elektrisiteit-infrastruktuur. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die weer het elektrisiteit-infrastruktuur beskadig, talle netwerkfoute veroorsaak en die betrokke gebiede moeilik bereikbaar gemaak het:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hervorming en ekonomiese insluiting is morele en ekonomiese noodsaaklikhede wat sentraal staan tot Suid-Afrika se demokratiese politieke orde. Hy het gister die hoofrede gelewer by die Black Business Council se jaarlikse beraad in Johannesburg. Tau sê die land se ekonomie kan nie volhoubaar groei as die meerderheid van sy mense uitgesluit is nie. Hy sê swart ekonomiese bemagtiging moet die ekonomie se volle potensiaal ontsluit:
# ActionSA sê hy gaan ‘n klag by die Openbare Beskermer indien oor wat hy noem die Stad Johannesburg se onregmatige vertraging om die Johannesburg Internasionale Vervoer-wisselkruising aan die betrokke begunstigdes te oorhandig. Die vervoerfasiliteit van 400-miljoen-rand wat bedoel is as ʼn sentrale punt vir langafstand- en oorgrensbusse, minibus-taxi’s, kleinhandelbedrywighede en geriewe vir pendelaars, staan leeg. Mpumi Edward van ActionSA sê die metro kan nie fasiliteite verwaarloos wat inkomste-invordering kan verbeter nie:
# Rugby: Die afrigter van die Stormers-23, Tom Dawson-Squibb, het vyf veranderinge aan sy span aangebring vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Pumas in Mbombela. Die span het twee van hul vorige vier wedstryde verloor, insluitend teen die Vrystaat verlede naweek, en is tans sesde op die punteleer. Dawson-Squibb sê sy manne sal ‘n 80-minute-vertoning moet lewer om ‘n nodige wegoorwinning te verseker. Wandile Mlaba, Keke Morabe en Herman Lubbe, wat verlede week vir die senior span teen die All Blacks gespeel het, word ook terug verwelkom.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-544-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Sonsverduistering het gister in Europa voorgekom met ‘n uiters skaars algehele verduistering wat in Spanje, Portugal, Ysland en Groenland te sien was. ‘n Sonsverduistering kom voor wanneer die maan direk tussen die aarde en die son inbeweeg en dan ‘n skaduwee op die aarde gooi. ‘n Gedeeltelike sonsverduistering waar ‘n deel van die son se lig nie gesien kan word nie, het oor Noord-Amerika, Kanada, die meeste van Europa en noord-wes Afrika voorgekom. Dit was die eerste algehele sonsverduistering oor die Europese vasteland in twee dekades.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….