Nuus 09:00
BULLETIN 28 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum waarsku die ANC kan dalk die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette misbruik om aan bewind te bly
# Die VK en Finland sluit aan by ander lande en staak befondsing aan die VN in Gaza
# En, tennis: Sabalenka sê harde werk werp vrugte af na sy haar Australiese Ope-titel behou
# AfriForum het kommer uitgespreek dat die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette deur die ANC gebruik kan word om sy houvas op mag te versterk. Die mening is uitgespreek tydens openbare verhore gehou deur die ad hoc-komitee wat verantwoordelik is vir die verwerking van die wysigingswetsontwerp in Tshwane. Afriforum se woordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, het die voorsiening vir massa-waarneming in die wysigingswetsontwerp gekritiseer, en sê daar is nie noodsaaklike beskerming van privaatheid en vryheid van spraak nie.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, het die moord op ‘n polisiebeampte, wat van diens af was, en sy vriend Vrydagaand, op die vooraand van Nasionale Polisiedag, in Khayelitsha veroordeel. Allen sê die beampte was verbonde aan Kaapstad-sentraal SAPD maar by die howe gestasioneer. ’n Soektog is aan die gang na die oortreders, want die owerhede soek geregtigheid in reaksie op hierdie tragiese voorval:
Steeds in die Wes-Kaap: Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommisssie het bevestig hy voer tans samesprekings ná die ontvangs van ‘n klagte oor rioolstortings en water-onderbrekings in die Knysna Plaaslike Munisipaliteit. Die kommissaris Aseza Gungubele sê klagtes oor dienslewering word beskou as menseregtekwessies wat deur ‘n behoorlike konsultasieproses hanteer moet word. Intussen hou die munisipale bestuurder van Knysna, Ombali Sebola, vol die munisipaliteit is aktief betrokke by gesprekke met die provinsiale regering oor verkeie kwessies rakende dienslewering en fiskale sake.
# Die Verenigde Koninkryk en Finland het die jongste lande geword wat tydelik befondsing aan die Verenigde Nasies se Hulp- en Werke-agentskap in Gaza opgeskort het. Dit volg na bewerings dat 12 personeellede van die agentskap betrokke was by die sewende Oktober-aanval deur Hamas op Israel. Die VSA, Australië, Italië en Kanada het reeds bykomende befondsing aan die VN-agentskap opgeskort. Die Britse minister van Buitelandse Sake sê hulle is ontsteld oor die bewerings, maar voeg by die VK is steeds daartoe verbind om humanitêre hulp te help lewer aan die mense in Gaza wat dit desperaat nodig het.
# En, laastens, tennis: Die tweede gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus sê sy wou nie ‘n speler wees wat ‘n Grand Slam wen en dan verdwyn nie. Die 25-jarige het Zheng Qinwen van China met 6-3, 6-2 geklop en haar Australiese Ope-titel suksesvol verdedig. Sy het die eerste vrou geword wat dit regkry, sedert haar landgenoot, Victoria Azarenka, in 2013. Sabalenka is die eerste speler sedert Serena Williams van Amerika in 2007, wat die titel verower sonder om ‘n stel in Melbourne af te staan. Sabalenka sê haar harde werk het vrugte afgewerp:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….