Nuus 11:00
BULLETIN 23 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie verdedig sy besluit om munisipale fondse te weerhou
# Saftu vra die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om nie die terugkoopkoers te verhoog nie
# Sokker: Die President van Afrika-sokker Patrice Motsepe sê hy het geen voorneme vir ‘n derde termyn in 2029 nie
# Die Nasionale Tesourie het sy besluit verdedig om 69 munisipaliteite se Julie-fondse van 13,5-miljard-rand weens swak finansiële bestuur tydelik te terug te hou. Hy sê dis in ooreenstemming met grondwetlike en wetgewende voorskrifte. Dit volg nadat die Finansiële en Fiskale Kommissie die besluit se wetlikheid bevraagteken het. Die adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die Tesourie se algemene raad, advokaat Empie van Schoor, sê die uitvoerende gesag kan die toelaes terughou, maar die Parlement moet dit goedkeur.
# Die vakverbond Saftu vra die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om nie vandag die terugkoopkoers te verhoog nadat die inflasiekoers tot vyf-persent gestyg het nie. Die sentrale bank het die koers in Mei met 25-persentasiepunte verhoog ná die brandstofprys-skok in Februarie. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê die land is nie verplig om ‘n eng monetêre beleid te volg wat inflasie bo alle ander ontwikkelingsdoelwitte stel nie:
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het die Gautengse polisie en Ekurhuleni se metropolisie geloof nadat hulle ʼn vermeende transitoroof-bende onderskep het voor die misdaad kon plaasvind. Die bende word moontlik verbind met talle ernstige en geweldsmisdade in die provinsie. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê wetstoepassingsbeamptes het toegeslaan op ʼn huis in Daveyton aan die Oos-Rand en beslag gelê op sewe gewere, ‘n pistool, glim-baadjies en ʼn gekaapte BMW X5:
Nuus uit die buiteland:
# Die Irans-ondersteunde Houthi-rebelle in Jemen het twee Saoedi-Arabiese olietenkskepe in die Rooi See aangeval slegs dae nadat ‘n seeversperring teen Saoedi-Arabiese vaartuie afgekondig is. Verskeie ballistiese en kruismissiele en hommeltuie is in die aanvalle gebruik. Houthi se militêre woordvoerder, Yahya Saree, sê hulle sal voortgaan met vlootoperasies teen Saoedi-Arabië en volhou met reaksie op elke aanval. Saoedi-Arabië se Algemene Vervoergesag sê die aanvalle is ‘n oortreding van internasionale wette en konvensies wat die veiligheid van handelsvaartuie en hul bemanning verseker.
# Sokker: Die president van die Konfederasie vir Afrika-sokker, Patrice Motsepe, sê hy het geen voorneme om nog ‘n termyn te dien na diens van agt jaar aan die hoof nie. Die mynmagnaat en gewese president van Mamelodi Sundowns het in Maart 2021 as CAF se president oorgeneem en is verlede jaar vir ‘n tweede termyn herkies. Motsepe sê CAF het meer as genoeg bekwame mense wat by hom kan oorneem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-751-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….