Nuus 14:00
BULLETIN 25 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsdiensvakbond eis ‘n dringende ondersoek na vermiste toelaes van 630-miljoen-rand by die Opleidingsowerheid
# Die Oos-Kaapse regering wil die ontwrigting van dienslewering beperk ná die brand in die Botha Sigcau-gebou
# En krieket: Die Proteas beklink die reeks 3-2 met ‘n oorwinning van 33 lopies in Christchurch
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, om dringend opdrag te gee vir ‘n onafhanklike forensiese ondersoek na die vermiste 630-miljoen-rand in vaardigheidsontwikkelingstoelaes. Die Ouditeur-generaal het bevind die toelae-uitgawes deur die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Onderwys, Opleiding en Ontwikkelingspraktyke kan nie gestaaf kan word nie weens vermiste rekords. Claude Naicker van die vakbond sê dis ‘n katastrofiese bestuursmislukking:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Openbare Werke, Infrastruktuur en Menslike Nedersettings, Siphokazi Lusithi, is bekommerd nadat ‘n brand gisteraand die geskiedkundige Botha Sigcau-gebou in Mthatha verwoes het. Die 11-verdiepinggebou huisves verskeie distriks- en provinsiale regeringsdepartemente. Die departement se woordvoerder, Siyabonga Mdodi, sê hulle sal dringend met die betrokke departemente skakel om enige ontwrigting van dienslewering te beperk:
# ‘n Veldbrand wat gistermiddag op Grottoweg in Houtbaai, Kaapstad, ontstaan het, versprei tans in die rigting van Klein Constantia. Brandbestryders probeer die brand beheer, wat steeds hoog teen die hange woed. ‘n Woordvoerder, Mark Bosch, sê helikopters het begin om water uit die lug te stort, terwyl owerhede die situasie dophou en nabygeleë eiendomme beskerm:
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n historiese reeksoorwinning in Christchurch behaal nadat hulle Nieu-Seeland met 33 lopies in die vyfde en laaste T20-toets verslaan het. Die Proteas het eerste gekolf en ‘n stewige 187 vir vier aangeteken, aangehelp deur Connor Esterhuizen se sensasionele 75 van 33 balle. Nieu-Seeland het in hulle beurt gesukkel en op 154 vir agt geëindig. Die twee Suid-Afrikaanse draaiboulers, Keshav Maharaj en Prenelan Subrayen, het weer eens hul waarde bewys en die middelorde laat ineenstort. Die reeksoorwinning van 3-2 is Suid-Afrika se eerste bilaterale T20-reeksoorwinning ooit op Nieu-Seelandse bodem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-508-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-557-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Ongeveer 32 liggame, meestal die van kinders, is opgegrawe vanuit ‘n massagraf in die westelike Keniaanse dorp Kericho. Die Regering se patoloog, Richard Njoroge, het gesê daar was sewe volwassenes en 25 kinders. Kenia se Direktoraat van Misdaadondersoeke sê dit is nie duidelik hoekom die liggame op die terrein, wat aan die Nasionale Raad van Kerke behoort, begrawe is nie. Dit volg nadat honderde liggame in 2023 in ‘n woud naby die kusstad Malindi gevind is in een van die land se ergste gevalle van kultusverwante massasterftes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….