Nuus 13:00
BULLETIN 25 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum beskuldig Fikile Mbalula dat hy Amerikaanse gesprekke ondermyn
# Vier vermeende lede van ‘n misdaadsindikaat deur die polisie in Yeoville doodgeskiet
# En tennis: Coco Gauff is vir die eerste keer deur na die halfeindstryd van die Miami-Ope
# AfriForum het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, beskuldig dat hy voortgesette skakeling met Amerika ondermyn. Dit volg na die groep vandag ‘n dokument vrygestel het waarin hy Mbalula se optrede kritiseer. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, beweer Mbalula se opmerkings teen Amerika kan onderhandelings benadeel en negatiewe ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika inhou. Hy beklemtoon die organisasie sal steun werf vir geteikende internasionale optrede teen individue, en waarsku breër sanksies kan werkloosheid en armoede vererger. Hy voeg by die dokument sal Mbalula se beweerde korrupsie en die agteruitgang van bestuur uitlig.
# Vier verdagtes is vanoggend in ‘n skietery met die polisie en ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy in Yeoville, Johannesburg dood. Een persoon is beseer. Na wat berig word, word die verdagtes gekoppel aan ‘n bende wat verantwoordelik is vir ‘n reeks huisrooftogte wat op reisigers vanaf lughawens gemik is. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Tintswalo Sibeko, sê drie vuurwapens is op die toneel teruggevind.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het die metro se vlagskip-herontwikkeling van die Strandfontein-paviljoen aan die Valsbaai-kus van stapel gestuur. Die opknappingsprojek van 300-miljoen-rand is ‘n meerjarige kapitaalinspuiting wat gemik is op die verbetering van die dagoord, wat oorspronklik in die 1980’s gebou is. Hill-Lewis sê die plan vir die opgraderingsprojek sluit nuwe kommersiële en restaurantruimtes in, asook ‘n buitelugkonsertruimte in ‘n opelug-amfiteater, en beter veiligheid en sekuriteit:
# Die Kommunikasie-reguleringsowerheid van Namibië het ‘n aansoek van SpaceX om Starlink in die land te bedryf, van die hand gewys. Starlink, wat geen Namibiese aandeelhouding besit nie, het aansoek gedoen om golflengtes te gebruik om landwyd vaste satellietdienste te lewer. Ingevolge Namibiese wetgewing moet ten minste 51-persent van enige telekommunikasiemaatskappy se aandele aan burgers of plaaslike ondernemings behoort. Mufaro Nesongano van die owerheid sê die satelliet-internetmaatskappy is toegang tot die radiospektrum en ‘n telekommunikasiedienslisensie geweier:
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Coco Gauff, is vir die eerste keer deur na die halfeindstryd van die Miami-Ope. Die Amerikaner het Belinda Bencic van Switserland in drie stelle geklop en kom nou teen die 13de gekeurde Tsjeg, Karolina Muchova te staan. In die mansafdeling sit die 2018-finalis, Alexander Zverev van Duitsland sy veldtog voort vir ‘n eerste titel in Miami nadat hy Quentin Halys van Frankryk in twee stelle geklop het. Hy kom nou teen die Argentyn Francisco Cerundolo te staan wat deurgedring het na sy vierde kwarteindronde toe hy die Fransman Ugo Humbert uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-177-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-543-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….