Nuus 06:00
BULLETIN 25 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement bevind Nobuhle Nkabane skuldig aan ‘n etiese oortreding
# ‘n Ekonoom waarsku die brandstofverhogings kan die debat oor afstandswerk laat opvlam
# En die Filippyne verklaar ‘n nasionale energienoodtoestand
# Die parlement se gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange het Nobuhle Nkabane skuldig bevind aan die oortreding van die Etiese Gedragskode oor die aanstellings van die raad van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid. Die komitee het beslis dat sy die parlement mislei het deur te beweer dat die paneel wat die 21 SETA-raadvoorsitters gekies het, onafhanklik was. Sy is beveel om verskoning te vra na bevindinge wat gelei het tot haar verwydering as minister van Hoër Onderwys. Sy is nou die ANC-adjunkhoofsweep in die parlement.
Intussen sê die DA sê dit is duidelik dat die SETA’s niks meer as kontantkoeie vir korrupte en plunderende ANC-kaders is nie. Die DA se Karabo Khakhau sê Nkabane se versuim om voorsorg te tref, beteken sy het toesig gehou oor senior ANC-kaders wat hoogs betaalde poste aanvaar het:
# Die onafhanklike ekonoom, John Loos, sê stygende binnelandse brandstofpryse wat deur die konflik in die Midde-Ooste aangeblaas word, kan debatte oor afstandswerk en behuisingsbekostigbaarheid in Suid-Afrika weer laat opvlam. Petrolpryse sal na verwagting vroeg volgende maand met tot vyf-rand per liter styg, wat druk op daaglikse pendelaars sal plaas. Hoër vervoerkoste kan werkers dryf om behuising nader aan ekonomiese spilpunte te soek. Loos waarsku die besprekings oor buigsame werkreëlings en stadsbehuising sal waarskynlik toeneem as brandstofpryse hoog bly.
# Die adjunkhoof van die Tshwane Metropolisie, Revo Spies, het aan die Madlanga-kommissie gesê die ontplooiing van wagte by water- en sanitasiepompstasies, is hoofsaaklik aan een maatskappy, Gubis 85 Solutions, toegeken is. Spies het die verspreiding van kontrakte as onlogies beskryf en meen daar was moontlike begunstiging vergeleke met die ander 21 beskikbare firmas. Die maatskappy word betrek by moontlike tender-onreëlmatighede in Tshwane. Hy het beklemtoon dat tenders regverdig versprei moet word:
# Die Filippynse president Ferdinand Marcos Junior het ‘n nasionale energienoodtoestand in die land verklaar weens die voortdurende konflik in die Midde-Ooste. Ingevolge die uitvoerende bevel ontwrig die sluiting van die Straat van Hormoes, ‘n kritieke energiekorridor vir globale olieverskepings, die vloei van petroleumprodukte na internasionale markte en dit beperk die wêreldwye brandstofvoorraad. Die Filippyne voer 98-persent van sy olie deur die Golf in. Marcos sê hierdie stap sal energiebestendigheid verseker en die breër ekonomie beskerm.
# Gholf: Die Sonskyn Vrouetoer se nuwe plaaslike kampioen, die 21-jarige Gabrielle Venter, is opgewonde om hierdie week in die ABSA Vroue- Uitnodigingstoernooi by die Royal Johannesburg-gholfbaan te speel. Sy sê sy kom gewapen met ondervinding aangesien sy gereeld as amateur op die baan gespeel het. Venter speel saam met Danielle du Toit en Frankryk se Lois Lau, albei onlangse wenners op die Vrouetoer, asook die verdedigende kampioen, Thalia Martin van Engeland. Wenners op vanjaar se Vrouetoer kry vrystellings om teen professionele spelers van die Sonskyn Vrouetoer in die Waterfall City Tournament of Champions mee te ding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-273-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-481-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….