Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa het die versekering gegee dat hy onderbrekings in 2026 wil uitskakel. Hy sê die uitdaging het verskuif van opwekking na verspreiding.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die 35-jarige prokureur, Chinette Gallichan wat Maandag in die Johannesburgse middestad doodgeskiet is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar dit het aan die lig gekom dat Gallichan onder meer sake oor onwettige mynwerkers hanteer het.
En tweedens skryf die webblad twaalf senior polisiebeamptes en ‘n direkteur van ‘n maatskappy is in verband met die tenderkontrak van die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala in hegtenis geneem en sal vandag in die hof verskyn.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf City Power het ‘n dringende waarskuwing uitgereik nadat ‘n gesofistikeerde bedrogskema ontbloot is waarin swendelaars sy uitvoerende hoof, Tshifularo Mashava, se naam misbruik om sakeondernemings en diensverskaffers deur ‘n vals tender uit te buit.
# Sowetan:
Berig daar is nuwe pogings om stappe te doen teen die vyf amptenare van die Tshwane-metro wat die Rooiwal-tender aan die omstrede sakeman Edwin Sodi toegeken het.
# En The Citizen:
Skryf die ondervoorsiening van brandstof aan Wes-Kaapse boere is reeds besig om probleme te veroorsaak, veral met die plant- en oesseisoen wat voorlê. Agri Wes-Kaap waarsku dit gaan voedselpryse die hoogte laat inskiet.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig 58-persent van boere in die Wes-Kaap het net 14 dae of minder se brandstofvoorraad. Kenners meen dit kan ‘n ernstige uitwerking op voedselsekerheid hê. Voorts skryf die koerant die eerste waterbeperkings vir die Wes-Kaap word vir die einde van die maand in die vooruitsig gestel.
En tweedens skryf die koerant die polisie het ‘n tekort aan honde.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die watertekort in Gqeberha het die verrigtinge by die Hooggeregshof in die wiele gery.
En skryf die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe moes bontstaan om vrae oor dienslewering te beantwoord.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die finansieringsmaatskappy Wesbank is in die spervuur oor die provinsie se voertuigvloot.
En tweedens word berig besendings sitrosoda is aan die mark onttrek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Xinfeng Investments se samewerkingsvennoot, Long Fire Investments, soek goedkeuring van die minister van Nywerheidsontwikkeling, Myne en Energie om ‘n voorraad litiumkonsentraat uit te voer.
En tweedens skryf die koerant Starlink se Namibiese entiteit, Starlink Namibia Internet Services het slegs aan die helfte van die kriteria voldoen wat in sy aansoek vir spektrum- en telekommunikasiedienste vereis is.