Nuus 17:00
BULLETIN 24 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa vra die verkiesingskommissie om voor die verkiesing sy stelsels te versterk
# Thabo Bester betwis lasbriewe vir sy inhegtenisneming na sy ontsnapping uit die tronk
# En sokker: Banyana Banyana speel teen Wêreldbekerkampioene in twee vriendskaplike wedstryde
# Die Forum for South Africa vra die Onafhanklike Verkiesingskommissie om voor die plaaslike regeringsverkiesing dringend sy kiesstelsels te versterk en volle openbare vertroue te herstel. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê opposisiepartye, die burgerlike samelewing en gemeenskappe is reeds jare lank bekommerd oor beweerde stemknoeiery, die wanhantering van stembriewe en kwesbaarhede in die stemprosesse:
# Die veroordeelde moordenaar Thabo Bester het aan die Hooggeregshof in Johannesburg gesê sy dringende aansoek betwis die geldigheid van lasbriewe wat verband hou met sy inhegtenisneming en aanhouding. Hy voer aan die wettigheid van sy aanhouding in Bloemfontein is die kern van die aanklagte teen hom, wat verband hou met sy ontsnapping uit die tronk in 2022. Sy aansoek vra ook vir oordrag uit die eBongweni Super-maksimum Korrektiewe Sentrum in KwaZulu-Natal na die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum in Pretoria. ‘n Afsonderlike aansoek vir ‘n oorplasing na ‘n fasiliteit in Gauteng is vroeër vandeesmaand van die hand gewys.
# Die Vryheidsfront Plus sê die skorsing van die Tshwane-metropolisiedepartement se adjunkkommissaris, Umashi Dhlamini, is geen verrassing nie. Dhlamini se naam is by die Madlanga-kommissie genoem in verband met bewerings van tender-onreëlmatighede. Morné Erasmus van die VF Plus sê dis nie die eerste keer dat Dhlamini as voorsorgmaatreël verwyder word nie. Hy is voorheen by twee geleenthede geskors na bewerings van korrupsie teen hom:
# Die woordvoerder van die ministerie van Buitelandse Sake van Katar, Majid Al-Ansari, sê sy land is nie betrokke by enige pogings om die oorlog tussen die VSA en Iran te beëindig nie. Tydens ‘n inligtingsessie in Doha het hy gesê die fokus is op die beëindiging van aanvalle op Katar en die verdediging van sy eie gebied. Al-Ansari het bevestig dat Iran sedert Donderdag geen inkomende missiele of hommeltuie op Katar gerig het nie, maar die land is steeds in die middel van die konflik. Volgens Al-Ansari is meer as 200 hommeltuigaanvalle op Katar uitgevoer, maar meer as 90-persent is onderskep.
# Sokker: Banyana Banyana is gereed vir ‘n strawwe toets wanneer hulle in Junie 2026 in twee internasionale vriendskaplike wedstryde teen Japan speel. Hulle sal die Nadeshiko op Saterdag 6 Junie en Dinsdag 9 Junie ontmoet, met albei wedstryde wat in Osaka gespeel word. Afrigter Desiree Ellis wil die wedstryde gebruik as sleutelvoorbereiding vir die komende Afrikabekertoernooi vir Vroue later vanjaar. Japan was FIFA Vrouewêreldbekerkampioene in 2011 en het die 2026 AFC Asiatiese Beker vir Vroue gewen. Banyana sal in April nog twee internasionale vriendskaplike wedstryde speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-871-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-377-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….