Nuus 18:00
BULLETIN 24 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie verdaag tot 7 April
# Die GOOD-party sê Eugene de Kock het inligting wat politieke leiers geheim wil hou
# En, die gesinne van Lily-myn-slagoffers eis ingryping ná 10 jaar van wag
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek het sy verrigtinge verdaag tot 7 April. Die voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het hierdie week persoonlike verpligtinge om af te handel, terwyl daar volgende week gee getuies is nie. Die Tshwane Metropolisie se adjunkhoof vir Batebeskerming en Sekuriteitsdienste, Revo Spies, het vandag getuig oor tender-onreëlmatighede en gevra vir die beskerming van verklikkers aangesien hy as ‘n moontlike bedreiging vir die departement beskou word. Die kommissie ondersoek bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi oor beweerde politieke inmenging in die regstelsel.
# Die GOOD-party sê die omstrede apartheidsera-polisieman, Eugene de Kock, het inligting wat nie die ou of nuwe orde se politieke leiers wil hê Suid-Afrikaners moet weet nie. De Kock wat voor die ondersoek na die Cradock-vier se moorde in 1985 verskyn, het erken hy het onder die apartheidsregering sogenaamde terroriste vir die Veiligheidspolisie gejag. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê De Kock sal nie baie van die ANC se geheime weet nie, maar hy weet van baie sake wat die NVG huiwer om te vervolg:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het herhaal Citro-Soda-produkte met produknommers wat met die letter C begin, is onveilig weens moontlike gevare van besmetting. Die Inspektoraat- en Reguleringsnakomingsbeampte, Lebohang Mazibuko, sê produkte wat geraak is kan metaal en swart stukkies bevat wat verbind word met uitgewerkte toerusting. Sy vra verbruikers om na die produknommers te kyk voor hul die produk aankoop, om voorraad wat geraak is te vermy en om gesondheidsprodukte wat foutief is aan te meld:
# Die gesinne van drie mynwerkers wat vasgekeer is in die Lily-myn sê hulle bly gefrustreerd oor vertragings om die oorskot van hul geliefdes te herwin. Solomon Nyirenda, Pretty Nkambule en Yvonne Mnisi is in 2016 ondergronds vasgekeer nadat ‘n houer tydens ‘n ineenstorting ondergronds begrawe is. Gesinslede bevraagteken waarom ander mynreddings suksesvol was maar hulle saak is steeds nie opgelos nie. Dit volg nadat vyf mynwerkers wat vasgekeer was by die Ekapa-myn, se oorskot herwin is. Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, sê die liggame sal herwin word, maar die proses kan langer duur.
# Sokker: Banyana Banyana is gereed vir ‘n strawwe toets wanneer hulle in Junie 2026 in twee internasionale vriendskaplike wedstryde teen Japan speel. Hulle sal die Nadeshiko op Saterdag 6 Junie en Dinsdag 9 Junie ontmoet, met albei wedstryde wat in Osaka gespeel word. Afrigter Desiree Ellis wil die wedstryde gebruik as sleutelvoorbereiding vir die komende Afrikabekertoernooi vir Vroue later vanjaar. Japan was FIFA Vrouewêreldbekerkampioene in 2011 en het die 2026 AFC Asiatiese Beker vir Vroue gewen. Banyana sal in April nog twee internasionale vriendskaplike wedstryde speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-997-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-401-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….