Nuus 15:00
BULLETIN 24 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Revo Spies bevestig onreëlmatighede in Tshwane Metropolisie se tenders lei tot ‘n aanbeveling om dit te kanselleer
# Die MK-party kritiseer die PA se beweerde politieke inmenging in werwingsprosesse in die Departement van Sport, Kuns en Kultuur
# En netbal: Sanmarie Visser floreer in die Verenigde Koninkryk se Netbal Superliga
# Die adjunkhoof van die Tshwane Metropolisiedepartement, Revo Spies, sê onreëlmatighede in ‘n tender-evalueringsproses het gelei tot ‘n aanbeveling om dit te kanselleer en van voor af te begin daarmee. Spies het voor die Madlanga-kommissie getuig ‘n verslag het bevind tenderdokumente is van amptelike persele verwyder en met vermiste lêers terugbesorg. Hy sê die verslag dui ook aan ‘n komiteelid het bedank weens kommer, wat ernstige vrae oor deursigtigheid en nakoming in die verkrygingsproses veroorsaak het:
# Die MK-party het die Patriotic Alliance gekritiseer oor beweerde inmenging in werwingsprosesse binne die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. Die MK-party beweer amptenare het aansoekers aangemoedig om persoonlike besonderhede regstreeks in te dien, wat kommer oor regverdigheid laat ontstaan. Die party sê sulke optrede ondermyn deursigtigheid en hou die gevaar van politieke begunstiging in. Die MK Party het die regering versoek om die saak te ondersoek en werwingsprosesse teen politieke invloed te beskerm.
# China het beplande brandstofprysverhogings teruggetrek in ‘n poging om die las op bestuurders te verminder. Dit volg nadat die plaaslike petrolprys sedert die begin van die oorlog in Iran met ongeveer 20-persent gestyg het. Brandstofpryse sou aanvanklik met ongeveer vyf-duisend-rand per een-duisend-kilogram styg, maar ná regeringsaanpassings sal die verhogings byna halveer. Meer as 300-miljoen mense in China bestuur petrol- of dieselvoertuie. Die jongste prysverhoging is die land se vyfde en ook grootste in die jaar, selfs met die verlaging.
# Netbal: Die Protea-verdediger Sanmarie Visser het sonder enige probleme aangepas in die Netbal Superliga en het onmiddellik haar staal gewys in haar debuutseisoen by die Leeds Rhinos in die Verenigde Koninkryk. Visser beskou die NSL as ‘n wonderlike geleentheid om haar spel te verbeter en om as persoon te groei. Die NSL-seisoen eindig voor die Statebondspele in Glasgow, en Visser het haar oog op Suid-Afrika se span. Die Proteas gaan probeer om hul sesde plek van 2022 te verbeter en sy glo haar oorsese ervaring sal die deurslag gee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-252-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-420-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die berugte komediant Bill Cosby is gelas om 326,5-miljoen-rand in skadevergoeding te betaal, na ‘n siviele jurie in Kalifornië hom skuldig bevind het aan die bedwelming en seksuele aanranding van ‘n vrou in 1972. Donna Motsinger sê in haar regsgeding die 88-jarige het haar na sy komedievertoning by ‘n teater in die nabygeleë San Carlos genooi. Sy sê Cosby het vir haar wyn en ‘n pil gegee wat haar hulpeloos gelaat het toe hy haar by haar huis in ‘n limousine opgelaai het. Cosby se prokureur, Jennifer Bonjean, sê hulle gaan teen die uitspraak appelleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….