Nuus 14:00
BULLETIN 24 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geen pleitooreenkoms is bereik in Mugabe en Matonhodze se saak van poging tot moord nie
# Die Tesourie bevorder inklusiewe ekonomiese groei op die SA-TIED-konferensie
# En tennis: Die Kanadese tiener Victoria Mboko is deur na die Miami-kwarteindronde
# Die saak van poging tot moord teen Bellarmine Mugabe, seun van Zimbabwe se ontslape president Robert Mugabe, en sy medebeskuldigde, Tobias Mugabe Matonhodze, is in die Landdroshof in Alexandra uitgestel tot 17 April. Hulle word beskuldig nadat hulle in Februarie ‘n 23-jarige tuinier by die Mugabe-woning in Hydepark geskiet het. Geen pleitooreenkoms is bereik nie. Die twee het hul borgtogaansoek laat vaar nadat die staat aangevoer het hulle kan ‘n vlugrisiko wees aangesien hulle na bewering onwettig in die land is. Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
# Die Nasionale Tesourie se tweede fase van sy Southern Africa – Towards Inclusive Economic Development Close-Out-konferensie in Pretoria ondersoek ekonomiese hervorming en inklusiewe groei in Suid-Afrika. Die geleentheid fokus op bewese oplossings vir uitdagings, insluitend werkloosheid, fiskale druk en energie-oorgang. Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, het tydens die geleentheid gevra vir nouer samewerking om te bepaal hoe ekonomiese navorsing, data en volgehoue institusionele samewerking hervormingspogings kan verbeter. Fase drie van die SA-TIED sal ook bekendgestel word.
# Die Stad Tshwane sê werkloosheid in Suid-Afrika is nie net ‘n ekonomiese kwessie nie, maar ook ʼn maatskaplike en ontwikkelingskrisis. Volgens Statistiek Suid-Afrika was die werkloosheidsyfer onder jongmense tussen 15-34 jaar in die eerste kwartaal van 2025 ongeveer 46,1-persent. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê Tshwane se Ithuba Youth Economic Development Programme wil werkloosheid onder die jeug aanpak en meer geleenthede skep:
# Die Verenigde Nasies waarsku hoe langer die Rusland-Oekraïne-oorlog voortduur, hoe dodeliker word dit. Sedert Rusland sy volskaalse inval in Oekraïne in 2022 van stapel gestuur het, is 15-duisend-364 burgerlikes dood, insluitend 775 kinders, en meer as 42-duisend mense is beseer. Ten minste 188 burgerlikes is in Februarie dood en 757 is beseer, ‘n toename van 45-persent teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Rosemary DiCarlo van die VN sê verslae dui op ‘n toename in aanvalle wat spoorweë en ander vervoerinfrastruktuur teiken:
# Tennis: Die Kanadese tiener Victoria Mboko het Maandag haar mede-tiener Mirra Andreeva met 7-6, 4-6, 6-0 geklop om die Miami Ope-kwarteindronde te haal waar sy teen Karolina Muchova te staan sal kom. Mboko het verlede jaar haar eerste WTA-toervlak-oorwinning in Miami behaal. Sy het die kwarteindronde van verskeie toernooie in 2026 gehaal met ‘n vierde ronde-verskyning by die Australiese Ope. Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen Andy Roddick glo Mboko kan binne die volgende twee jaar ‘n Grand Slam wen. Hy sê sy is sterk en kan die stres van groot tennis weerstaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-143-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-424-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….