Nuus 06:00
BULLETIN 24 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie hoor getuienis oor Vusimuzi “Cat” Matlala se Luxor-bankkaart
# Eskom bestudeer die Appèlhof se uitspraak oor die openbaarmaking van steenkool- en dieselkontrakte
# En minister Mantashe gelas ‘n ondersoek na die Ekapa-mynramp
# Die sakeman Vusimuzi Matlala het na bewering kontak gemaak met die Fannie Nkosi van die SAPD se Georganiseerde Misdaadeenheid in Gauteng, om sy Luxor-kaart aan te vra voordat hy adjunkpresident Paul Mashatile en geskorste adjunkkommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya ontmoet het. Getuienisleier Matthew Chaskalson het by die Madlanga-kommissie opgemerk die Mashatile-verwysing uit Nkosi se vorige getikte verklaring is weggelaat. Nkosi het ontken dat dit op moontlike teenstrydighede dui:
Adjunkpresident Paul Mashatile het intussen bewerings ontken dat hy Matlala ontmoet het of van plan was om met hom te vergader. Die bewerings is gemaak deur Nkosi, wat gesê het Matlala het dringend sy kredietkaart nodig gehad vir vergaderings met Mashatile en top-polisiebeamptes. Mashatile se waarnemende woordvoerder, Keith Khoza, sê die adjunkpresident ken nie vir Matlala nie en was nie betrokke by enige onderhandelinge met hom nie:
# Eskom sê hy het kennis geneem het van die uitspraak van die Appèlhof in Bloemfontein oor die saak rakende AfriForum. Die hof het ‘n appèl van die kragvoorsiener van die hand gewys, wat ‘n bevel van die Hooggeregshof handhaaf dat hy sy aktiewe steenkool-, diesel- en vervoervoorsieningskontrakte aan AfriForum moet openbaar. Die Appèlhof het bevestig dat Eskom nie daarin geslaag het om toegang te weier kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting nie. Die kragvoorsiener sê hy bestudeer die uitspraak.
# Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het ‘n formele ondersoek gelas na die omstandighede by die Ekapa Minerals Joint Shaft-myn in Kimberley, Noord-Kaap, wat gelei het tot die dood van vyf mynwerkers. ‘n Modderstorting het op 17 Februarie in een van die operasionele gebiede by die diamantmyn voorgekom en die werkers ondergronds vasgekeer. Gister is die laaste van die liggame gevind. Mantashe sê die ondersoek sal in ooreenstemming wees met die Wet op Myngesondheid en -veiligheid:
# Iran sê die Amerikaanse president Donald Trump het teruggestaan van die aanval op sy kragsentrales na ‘n streng waarskuwing deur Teheran. Die Iranse ambassade in Kaboel het ook op sosiale media genoem dat Trump teruggestaan het na aanleiding van Iran se dreigemente om die energie-infrastruktuur van die hele streek te teiken. Die Fars-nuusagentskap van Iran haal ook bronne aan wat beweer daar was geen regstreekse kommunikasie met die VSA of met tussengangers nie. Trump het vroeër gesê daar is baie goeie gesprekke met Iran gevoer oor die beëindiging van die oorlog.
# Krieket: Nieu-Seeland-krieket het die voorgestelde NZ20-franchiseliga as hul voorkeuropsie aangewys om die land se 21 jaar oue Super Smash te vervang, maar wil hê die vrouekompetisie moet by die voorstel ingesluit word. Die nuwe liga se ondersteuners het ‘n ses-span-liga van privaat spanne voorgestel en hoop om die eerste toernooi teen Januarie 2027 aan te bied. Die voorsitter van die raad, Diana Puketapu-Lyndon, sê die raad wil verskeie veranderinge aan die NZ20-voorstel sien. NZC sê hulle het ‘n moontlike skuif oorweeg om by Australië se mans en vroue se Big Bash League T20-kompetisies aan te sluit, maar het daarteen besluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-642-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-406-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….