Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die JSE is weens die Iran-oorlog op pad na sy slegste maand sedert 2008. Die koerant skryf die rand tuimel soos kommoditeitspryse daal en die dollar versterk.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, het ‘n ondersoek gelas na die ramp by die Ekapa-diamantmyn in Kimberley. Vyf mynwerkers het in die grondstorting omgekom.
Dan skryf die webblad Eugene de Kock het in die Hooggeregshof in Gqeberha gesê die opdrag om die Cradock-vier te vermoor het uit hoë geledere gekom maar hy was nie betrokke by die beplanning of uitvoer daarvan nie.
En laastens word berig die SABC-aanbieder, Natasha Phiri, is geskors nadat dit by die Madlanga-kommissie aan die lig gekom het dat sy na bewering betaal is vir inligting.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ‘n prokureur is gister buite die kantoor van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie in Johannesburg se middestad doodgeskiet. Die vrou was werksaam by Sibanye-Stillwater maar haar naam is nie bekend gemaak nie. Die motief vir die moord is ook nie bekend nie.
# Sowetan:
Berig alle dienste in Emfuleni is opgeskort omdat daar geen diesel beskikbaar is vir die munisipalteit se voertuie nie. Die munisipaliteit sê vertragings met die aanstelling van ‘n nuwe kontrakteur om brandstof te lewer is die oorsaak.
# En The Citizen:
Skryf die ineenstorting van die land se groot metros deur onbefondse begrotings, wanbesteding en ‘n swaar skuldlas sal die hele land in duie laat stort.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die DA eis die aanstelling van ‘n parlementêre ad hoc-kommissie om die aanstelling van die parlementêre sekretaris Xolile George te ondersoek. Die ondersoek hou verband met sy aanstelling en salaris van byna vyf-miljoen-rand.
En tweedens skryf die koerant ActionSA het klagtes teen die minister van Landbou, John Steenhuisen en adjunkminster van Finansies, Ashor Sarupen by onder meer die Openbare Beskermer ingedien omdat hulle na bewering ekstra vergoeding by die DA ontvang. ActionSA sê dis ongrondwetlik.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die geskorste hoof van die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap, Anele Qaba sê die raad het doelbewus amptenare beskerm.
En tweedens skryf die koerant die getuienis van Eugene de Kock in die geregtelike ondersoek van die Cradock-vier het die emosies hoog laat loop.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf KwaZulu-Natal is besig om voor te berei vir ernstige storms wat vir die volgende dae in die provinsie voorspel word.
En tweedens word berig slangbyte is besig om toe te neem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Dierebeskermingsvereniging van Namibië het probeer om die uitvoer van lewende beeste Sondag per skip na Mauritius te keer, maar hulle is weggewys toe hulle by die hawe wou gaan betoog.
En tweedens skryf die koerant die weg is uiteindelik gebaan vir die langverwagte Fishrot-verhoor om voort te gaan, byna sewe jaar nadat dié bom gebars en verskeie hooggeplaastes betrek is.