Nuus 13:00
BULLETIN 23 March 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel is bekommerd oor die ekonomiese uitwerking van die Midde-Oosterse oorlog
# Motorsport: Marco Bezzecchi loop voor in MotoGP na ‘n indrukwekkende begin van die seisoen
# En: Meer as 200 vrywilligers neem deel aan skoonmaakveldtog op Robbeneiland
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê die konflik in die Midde-Ooste het onsekerheid in finansiële markte geskep, wat ‘n beduidende uitwerking op die wêreldekonomie sal hê. Dit volg op Iran se sluiting van die Seestraat van Hormoes waar ongeveer 20-persent van die wêreld se olievoorraad deurbeweeg. Die uitvoerende hoof, Alan Mukoki, sê hierdie konflik voorspel niks goeds vir enige vooruitsig van ekonomiese herstel soos die Suid-Afrikaanse regering verwag het nie:
Intussen doen GIWUSA ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om die terugkoopkoers te verlaag wanneer hy Donderdag sy tweede rentekoersbesluit vir die jaar neem. Die mate van onsekerheid rondom die inflasietrajek het toegeneem te midde van die oorlog in die Midde-Ooste. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, sê die terugkoopkoers moet drasties tot 3,5-persent verlaag word sodat dit met die huidige inflasiekoers ooreenstem:
# Die Londense Metropolisie het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat vier ambulanse vanoggend in Golders Green, in die noorde van Londen, aan die brand gesteek is. Die ambulanse behoort aan die Joodse vrywilliger-reddingsorganisasie, Hatzola Northwest. Volgens amptenare het verskeie silinders in die voertuie ontplof en vensters in aangrensende woonstelle het ook in die slag gebly. Golders Green is bekend vir sy groot Joodse en Ortodokse Joodse gemeenskap. Die polisie sê dit word beskou as ‘n antisemitiese haatmisdaad.
# Motorsport: Marco Bezzecchi lei die MotoGP kampioenskap-renjaers-punteleer met elf punte, na die eerste twee wedrenne van die seisoen. Die renjaer van Aprilia Racing het Sondag die Brasiliaanse Grand Prix gewen en sy oorwinning in die seisoen-opening van die Thailand Grand Prix vroeër hierdie maand versterk. Jorge Martin het dit ‘n Aprilia 1-2 gemaak en Fabio Di Giannantonio van VR46 Racing het ‘n aanslag van die verdedigende kampioen Marc Marquez afgeweer en die derde plek behaal. Vier renjaers is na ongelukke uit, insluitend Brad Binder van Suid-Afrika. Die Amerikaanse Grand Prix vind die naweek in Austin plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-315-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-255-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê die naweek se skoonmaakveldtog op Robbeneiland was ‘n reusesukses. Meer as 200 vrywilligers het onverpoosd gewerk om soveel as moontlik sakke vullis op te tel. Mackenzie sê dit was in samewerking met die Robbeneiland Museum, Coca-Cola Peninsula Beverages, FNB, die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls, en die Twee Oseane-akwariumstigting:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….