Nuus 11:00
BULLETIN 23 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika is neutraal wat die oorlog in die Midde-Ooste betref
# Die MK-party sê die SABC is gekaap en dit bedreig demokratiese aanspreeklikheid
# En tennis: Carlos Alcaraz is uitgeskakel in die derde ronde van die Miami Ope
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se posisie bly onverbonde om ‘n multipolêre wêreldorde te skep en nasionale belange te verdedig. Hy het die jaarlikse NEDLAC Georganiseerde Arbeidskool in Pretoria toegespreek. Mashatile sê Suid-Afrika sal voortgaan om vrede in die Midde-Ooste en ander wêrelddele voor te staan. Hy sê die land is verbind om gewere in Afrika stil te maak en wêreldwyd vrede en samewerking te bevorder:
Die hoof van die Internasionale Energie-agentskap, Fatih Birol, waarsku intussen die oorlog in die Midde-Ooste kan veroorsaak dat die wêreld sy grootste energiekrisis in dekades beleef. Hy vergelyk die huidige energiekrisis met dié van die 1970’s toe die wêreld sowat tien-miljoen vate olie per dag verloor het. Birol sê die belangrikste oplossing vir hierdie probleem is die opening van die Straat van Hormoes. Die agentskap het vroeër die maand ingestem om ʼn rekord 400-miljoen vate olie uit strategiese voorrade vry te stel om druk op wêreldmarkte te verlig.
# Die MK-party sê die SABC se kaping, of dit deur intimidasie, sensorskap of strategiese aanstellings is, is ʼn regstreekse bedreiging vir demokratiese aanspreeklikheid en persvryheid in Suid-Afrika. Dit volg na bewerings dat die openbare uitsaaier onder druk van die Presidensie en die ANC die gewilde program oor aktuele sake, Face the Nation, gekanselleer het. MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê objektiewe beriggewing en vreeslose ondervraging van mense in gesagsposisies kan nie op die altaar van politieke gedienstigheid geoffer word nie:
# Die DA in die Vrystaat verwelkom die Hooggeregshof in Bloemfontein se uitspraak oor die finale verbeurdverklaring van ses luukse eiendomme en ʼn Mercedes-Benz-voertuig met ʼn totale waarde van 32 miljoen-rand in Gauteng, die Vrystaat en Noordwes. Roy Jankielsohn van die DA sê die hof het bevind hierdie bates is bekom deur bedrieglike aktiwiteite soos bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die asbesdak-skandaal van 255-miljoen-rand:
# Tennis: Die Amerikaner Sebastian Korda het die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, in die Miami Ope se derde ronde verslaan en die grootste oorwinning van sy loopbaan behaal. Die 25-jarige Korda het die Spanjaard geklop en kom nou teen die 20-jarige kwalifiseerder, Martin Landaluce van Spanje, te staan. Arthur Fils van Frankryk het die Griek, Stefanos Tsitsipas, afgeransel terwyl Valentin Vacherot van Monaco met die Italianer Matteo Berrettini afgereken het. In die vroueafdeling het Elena Rybakina van Kazakstan gemaklik na die laaste 16 deurgedring nadat sy Marta Kostyuk van Oekraïne geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-739-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….