Nuus 12:00
BULLETIN 23 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika is neutraal wat die oorlog in die Midde-Ooste betref
# Sommige stelsels van Johannesburg Water is onder druk weens die groot aanvraag
# En gholf: LIV Gholf se hoof sê die besluit om die toernooi in 2027 terug te bring na Suid-Afrika is vanselfsprekend
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se posisie bly onverbonde om ‘n multipolêre wêreldorde te skep en nasionale belange te verdedig. Hy het die jaarlikse NEDLAC Georganiseerde Arbeidskool in Pretoria toegespreek. Mashatile sê Suid-Afrika sal voortgaan om vrede in die Midde-Ooste en ander wêrelddele voor te staan. Hy sê die land is verbind om gewere in Afrika stil te maak en wêreldwyd vrede en samewerking te bevorder:
# Die Internasionale Energie-agentskap se hoof, Fatih Birol, waarsku die oorlog in die Midde-Ooste kan veroorsaak dat die wêreld sy grootste energiekrisis in dekades beleef. Hy vergelyk die huidige energiekrisis met dié van die 1970’s toe die wêreld sowat tien-miljoen vate olie per dag verloor het. Birol sê die belangrikste oplossing vir hierdie probleem is die opening van die Straat van Hormoes. Die agentskap het vroeër die maand ingestem om ʼn rekord 400 miljoen vate olie uit strategiese voorrade vry te stel om druk op wêreldmarkte te verlig.
# Johannesburg Water sê sy stelsels is oor die algemeen bestendig en voorsieningsvermoë is redelik tot voldoende. Sommige stelsels soos Kommando, Soweto en Deep South bly egter onder druk weens die groot aanvraag. Johannesburg Water se woordvoerder, Pheladi Ramatshila, sê reservoir-vlakke is bestendig of verbeter, maar in sommige gebiede is die vlakke laer en plaas druk op sekere stelsels. Sy sê gereelde skedules en ongeskeduleerde ingrypings bly in in plek om herstelprosesse te ondersteun.
# Die Londense Metropolisie het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat vier ambulanse vanoggend in Golders Green, in die noorde van Londen, aan die brand gesteek is. Die ambulanse behoort aan die Joodse vrywilliger-reddingsorganisasie, Hatzola Northwest. Volgens amptenare het verskeie silinders in die voertuie ontplof en vensters in aangrensende woonstelle het ook in die slag gebly. Golders Green is bekend vir sy groot Joodse en Ortodokse Joodse gemeenskap. Die polisie sê dit word beskou as ‘n antisemitiese haatmisdaad.
# Gholf: LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê die sukses van die naweek se eerste LIV-toernooi in Afrika het bevestig Suid-Afrika is die tuiste van ʼn lewendige gholf-kultuur, talent van wêreldgehalte, en ondersteuners wie se passie die spel ophef. Die Amerikaner Bryson DeChambeau het Jon Rahm van Spanje gister in uitspeelronde verslaan en voor ʼn rekord-skare by Steyn City in Johannesburg met die louere weggestap. O’Neil sê die besluit om LIV Gholf in 2027 na Suid-Afrika terug te bring, was vanselfsprekend:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-461-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-226-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….