Nuus 06:00
BULLETIN 23 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering en vakbondfederasies moet werkers teen uitbuiting beskerm
# Minister Malatsi versoek ‘n verslag oor die kansellasie van ‘n SABC-program
# En Gauteng wil 4,6-miljard-rand in uitstaande pasiëntfooie verhaal
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering en vakbonde moet beslissend optree om werkers teen uitbuiting te beskerm, toegang tot veilige werk uit te brei, en gesondheids- en veiligheidstandaarde sonder kompromie af te dwing. Hy sê werkers mag nie hul lewens of lewensbestaan as gevolg van nie-nakoming verloor nie. Mashatile sê Suid-Afrika se vakbonde moet ook groei om makro-ekonomiese beleid te vorm, arbeidsintensiewe beleggings te ondersteun; en vaardigheidsontwikkeling en werkskepping te dryf:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê hy het aan die SABC-raadsvoorsitter, Khathutshelo Ramukumba, geskryf en ‘n volledige verslag versoek oor die redes vir die besluit om die aktuele sakeprogram Face the Nation te kanselleer. Volgens die Sunday Times is die besluit geneem weens politieke druk deur die Presidensie en die ANC-hoofkantoor, Luthuli-huis. Malatsi sê die feite moet vasgestel word om te verseker dat hierdie saak billik hanteer is en sonder om die beginsels van kragdadige joernalistiek in die gedrang te bring. Hy sê redaksionele onafhanklikheid moet beskerm word.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het pogings verskerp om inkomste in te vorder en finansiële volhoubaarheid te verbeter. Dit is deel van ‘n breër strategie om uitstaande pasiëntfooie in te vorder. In ʼn voorlegging aan die portefeuljekomitee is onthul dat uitstaande fooie tans sowat 4,6-miljard-rand beloop. Kealeboga Mohajane van die departement sê ʼn aansienlike deel van die uitstaande geld is dié van pasiënte wat self betaal, en sluit Suid-Afrikaners en buitelandse burgers in. Sy sê die res van die skuld is verpligtinge tussen regeringsdepartemente en uitstaande betalings van mediese fondse.
# Die SAKP veroordeel wat hy die Amerikaanse regering se voortgesette onwettige en ongevraagde aanvalle op Iranse leiers in die Midde-Ooste noem. Die party se woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê die sluipmoorde op hooggeplaaste Iranse amptenare soos die opperleier Ali Khamenei, minister van Intelligensie Esmail Khatib, en hoof van veiligheid, Ali Larijani, is nie gewone oorlogsdade nie, maar geteikende moorde op individue weens hul bande met die Iranse staat:
# Gholf: Die Amerikaner Bryson DeChambeau het die Spanjaard Jon Rahm in ‘n uitspeelwedstryd geklop om die eerste LIV Gholf Suid-Afrika by Steyn City in Johannesburg te wen, sy tweede agtereenvolgende titel. Hulle het op 26 onder baansyfer oor 72 putjies geëindig, met DeChambeau wat op die eerste uitspeelputjie met ‘n voëltjie gewen het. Intussen het DeChambeau se span, die Crushers, die spanbyeenkoms gewen en Suid-Afrika se Southern Guards met ‘n enkele hou op 76 onder geklop. DeChambeau sê hierdie oorwinning is baie groot vir die span om momentum te kry:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-507-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa woon vandag in die Noord-Kaap die herbegrawing van 63 Khoi- en San-voorsate se oorskot by. In die 19de eeu en vroeë 20ste eeu is die oorskot van duisende inheemse mense onwettig na nuwe museums en universiteite in Europa geneem. Die president se kantoor sê die terugkeer- en herbegrawe-program word deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die Suid-Afrikaanse Erfenisbronne-agentskap en Iziko Museums hanteer. Dis deel van ʼn groter nasionale poging om diegene te vereer wat hul lewens vir die vryheidstryd opgeoffer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….