Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Makashule Gana van Rise Mzansi het die toekenning van drie-duisend dobbellisensies jaarliks bevraagteken. Hy het aangedring op beter oorsig en regulering.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA-LP en partywoordvoerder, Karabo Khakhau is deur die DA gedwing om uit die party se leierstryd te tree. Die DA het na bewering geweier om vir haar ‘n brief van goeie finansiële stand uit te reik.
Tweedens skryf die webblad die Noord-Kaapse regering oorweeg tans die inkorting van drankverkoop-ure weens die probleme met drankmisbruik wat tot maatskaplike kwessies lei.
En laastens is daar nuus oor die oorstromings in Kenia waar 81 mense reeds die maand omgekom het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die EFF-leier, Julius Malema het enige samesmelting met die MK-party verwerp.
En tweedens word berig die Gautengse Departement van Gesondheid gaan stappe doen om 4,6-miljard-rand se agterstallige pasiëntfooie in te vorder.
# Sowetan:
Berig die toeloop na vulstasies het begin en verbruikers koop groot hoeveelhede brandstof aan uit vrees vir prysstygings en tekorte.
# En The Citizen:
Skryf dit het aan die lig gekom dat die raadslede van Lesedi (wat Heidelberg insluit) se eiendomme onderwaardeer is wat meebring dat hulle laer tariewe betaal as die res van die gemeenskap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar wag ‘n dubbele skok vir motoriste in April. Nie alleen tree die brandstoftariewe in werking nie, die uitwerking van die Midde-Oosterse krisis op die olieprys sal ook verwerk word. Die Energiereguleerder het die tariewe reeds op 13 Januarie goedgekeur.
En tweedens skryf die koerant die luukse voertuie en wonings van die beskuldigdes in die Vrystaatse asbesbedrogsaak is finaal deur die Hooggeregshof verbeurd verklaar. Dit sluit in sowat ses eiendomme en ‘n Mercedes Benz van 32-miljoen-rand.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n tekort aan verpleegpersoneel kniehalter die werk by die Livingstone-hospitaal.
En skryf die inwoners van Makhanda het begin betoog oor die tekort aan drinkwater.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Pietermaritzburg het tans reuse-probleme met die verkeersligstelsel in die stad.
En berig Tongaat Hulett tel tans die dae af tot April vir die opening van sy suikermeulens. Indien dit gebeur is die sekwestrasie van die maatskappy van die tafel af.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië het vir eers genoeg brandstof, maar amptenare en rolspelers in die bedryf waarsku dat stygende wêreldpryse en paniekaankope ‘n skerp brandstofprysverhoging in die komende weke kan meebring.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming het die Kharasstreek amptelik tot bek-en-klouseerbeheergebied verklaar.