Nuus 13:00
BULLETIN 20 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau waarsku SA kan meer as 13-miljard-rand in uitvoere verloor as die oorlog in die Midde-Ooste nog maande voortduur
# Die MK-party vra strenger wetgewing om die AmaKhosi-, Khoi-San- en tradisionele leiers te beskerm
# En rugby: Frankryk en Ierland oorheers die ondersteuners se Sesnasies-toernooi kampioenspan
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, waarsku ‘n drie-maande oorlog in die Midde-Ooste kan veroorsaak dat Suid-Afrika ongeveer 13,8-miljard-rand in uitvoere verloor. Verlede jaar is daar ongeveer 258-miljard-rand in handel met die Midde-Oosterse streek aangeteken. Die ontwrigting in die wêreldwye olievoorraad, veral deur die strategiese Seestraat van Hormoes, het veroorsaak dat oliepryse die hoogte inskiet. Tau het aan parlementslede gesê ‘n gesamentlike poging word nou benodig om deur hierdie storm te kom:
# Die MK-party vra ‘n omvattende hersiening en versterking van bestaande wetgewing om seker te maak dit verskaf duidelike, proaktiewe en volgehoue beskerming vir AmaKhosi-, Khoi-San- en tradisionele leiers. Adjunkpresident Paul Mashatile het verlede jaar gesê die regering van nasionale eenheid is besig met die instelling van ʼn tradisionele polisiëringskonsep in KwaZulu-Natal, Limpopo, die Oos-Kaap en Mpumalanga. Dit word in samewerking met provinsiala taakspanne gedoen. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die veronderstelde voordele van hierdie veldtog moet nog ʼn werklikheid word:
# Statistieke Suid-Afrika het ‘n afname van 10,5-persent in goedgekeurde bouplanne aangeteken vir die drie maande tot einde Januarie 2026. Die daling hou verband met verminderde bedrywighede in nie-residensiële projekte en swak residensiële konstruksie. Die ekonoom, Roelof Botha, waarsku oor ‘n potensiële behuisingstekort, met verwysing na hoë rentekoerse en munisipale tekortkominge. Gauteng en KwaZulu-Natal het die grootste dalings aangeteken, wat kommer laat ontstaan oor die konstruksiesektor se bydrae tot ekonomiese groei en werkskepping.
# Die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu sê sy land en die Verenigde State van Amerika tree met groot vasberadenheid en ongekende krag op in Iran. Die Amerikaans-Israelse oorlog teen Teheran is reeds byna drie weke aan die gang en Iran se wraakaanvalle op Golf-nasies stoot oliepryse wêreldwyd op. Netanyahu sê hulle is besig om te wen en Iran word verwoes. Die eerste minister het drie duidelike doelwitte vir die oorlog uiteengesit:
# Rugby: Ondersteuners van die Sesnasiestoernooi het gestem vir hulle kampioenespan. Frankryk, wat gekroon is as kampioene, maar nie die Grand Slam kon wen nie, het vier spelers in die span. Hulle is die bekwame vleuel Louis Bielle-Biarrey, die legendariese skrumskakel, Antoine Dupont, die heelagter, Thomas Ramos, en die slot Mickael Guillard. Ierland het ook vier spelers in die span. Drie spelers elk van Italië en Skotland is ingesluit, met Rhys Carré van Wallis wat die span afrond. Engeland is vyfde geplaas na hul swakste toernooi-eindstryd ooit en nie een enkele speler is ingesluit nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-620-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-678-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….