Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Ondersteuners van die Sesnasiestoernooi het gestem vir hulle kampioenespan. Frankryk, wat gekroon is as kampioene, maar nie die Grand Slam kon wen nie, het vier spelers in die span. Hulle is die bekwame vleuel Louis Bielle-Biarrey, die legendariese skrumskakel, Antoine Dupont, die heelagter, Thomas Ramos, en die slot Mickael Guillard. Ierland het ook vier spelers in die span. Drie spelers elk van Italië en Skotland is ingesluit, met Rhys Carré van Wallis wat die span afrond. Engeland is vyfde geplaas na hul swakste toernooi-eindstryd ooit en nie een enkele speler is ingesluit nie.
# Motorsport: Die heersende MotoGP-wêreldkampioen, Marc Márquez, sê hy is van plan om hierdie naweek weer te skitter ná ‘n teleurstellende wedren in Thailand. MotoGP keer hierdie week terug na Goiania vir die eerste Brasiliaanse Grand Prix sedert 1992, en die Ducati-renjaer het sy oog op sy eerste sege van 2026. Marquez het in die snelwedren in Thailand tweede geëindig, maar aan Sondag se hoofresies onttrek weens skade aan ʼn wielvelling. Hy sê hy hoop om hierdie naweek beter te doen:
# Krieket: Nieu-Seeland se vrouespan het vandag hulle Suid-Afrikaanse mededingers met ses paaltjies verslaan in die derde T20 in Auckland en loop nou met 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Kaptein Laura Wolvaardt het die beste gevaar met 37 van 39 balle en die Protea-vroue het 149 vir sewe in hul 20 boulbeurte aangeteken. Daarna het Sophie Devine met die kolf beïndruk en 55 van 38 balle behaal. Die White Ferns het die teiken in 18 boulbeurte en vier balle bereik. Die vierde T20 vind Sondag in Wellington plaas.
# Atletiek: Wêreld-atletiek se president, Sebastian Coe, sê die toekoms van binnenshuise atletiekkampioenskappe lyk rooskleurig en veilig. Dit volg nadat die Wêreld-atletiekraad Odisha in Indië en Astana in Kazakstan aangewys het om Wêreld-atletiek se Binnenshuise Kampioenskappe onderskeidelik in 2028 en 2030 aan te bied. Indië sal die eerste keer ʼn globale baan-en-veldkampioenskap aanbied. Coe sê hierdie twee gashere van die kampioenskappe weerspieël die organisasie se strategie om sportgeleenthede na opkomende markte te neem.
# En, sokker: Fifa het nuwe grensverskuiwende reëls aanvaar wat vereis dat spanne wat aan sy vrouetoernooie deelneem, ‘n vroulike hoof- of hulpafrigter moet hê. Spanne moet ook een vrou in hul mediese span hê. Die reëls tree vanjaar in werking met die Vrouewêreldbeker- en Vrouekampioenskapsbeker-kompetisies vir onder 17’s en onder 20’s. Die hoofbeampte van Fifa, Jill Ellis, sê die nuwe reëls dui op ‘n belangrike belegging in die huidige en toekomstige generasie vroulike afrigters.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….