Nuus 13:00
BULLETIN 18 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Limpopo se premier vra ondersteuning vir toekomstige operasies op geskeide Siamese tweelinge
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit gee toestemming aan privaat veeartse vir bek-en-klouseer-inentings
# En sokker: Senegal gaan appèlleer teen CAF se besluit om hom van sy AFCON-titel te stroop
# Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, prys die pediatriese chirurg, professor Nyaweleni Tshifularo, en die mediese span van die Mankweng-hospitaal vir die suksesvolle skeiding van Siamese tweeling-seuns. Die babas, wat in Januarie gebore is, het ‘n lewer en ander lewensbelangrike organe gedeel. Ramathuba sê die provinsiale regering moet ondersteuning bied om die sukses van toekomstige operasies te verseker, en sê die tweeling is in ‘n bestendige toestand en word noukeurig dopgehou:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap het ‘n aantal aansoeke van belangrike melkplase goegekeur dat privaat veeartse hul kuddes teen bek-en-klouseer mag inent, afhangend van die beskikbaarheid van entstowwe. Altesaam 18-duisend-230 inentings is sover toegedien. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê al die aansoeke word aangeteken sodat entstowwe aan hulle versprei kan word vir vrywillige inenting sodra dit beskikbaar raak:
Steeds in die provinsie:
# Die Oudtshoorn-munisipaliteit sê Meiringspoort is tot verdere kennisgewing gesluit weens rotsstortings. Verkeersbestuur se hoofdirekteur, Maxine Bezuidenhout, sê motoriste word aangeraai om die alternatiewe roete via die N9 deur George, Willowmore, Aberdeen en Beaufort-Wes te gebruik. Sy sê wetstoepassingspanne is tans op die toneel en padgebruikers se veiligheid kry voorkeur.
Nuus uit die buiteland:
# Amnestie Internasionaal het bevind Amerika het internasionale menseregte-wette oortree deur nie burgerlikes in Iran te beskerm nie. Vroeër die maand is 168 mense dood toe ‘n Amerikaanse lugaanval ʼn laerskool in Minab getref het. Onder die slagoffers was sowat 110 kinders. Amnestie Internasionaal se woordvoerder, Erika Guevara-Rosas, sê die aanval is ʼn voorbeeld van die rampspoedige en voorspelbare prys wat burgerlikes in die konflik betaal. Sy sê ondersoeke na die aanval moet onpartydig, onafhanklik en deursigtig wees.
# Sokker: Senegal se beheerliggaam het bevestig hy gaan na die Arbitrasiehof vir Sport appelleer teen die Afrika-konfederasie se besluit om sy Afrikabeker-titel terug te trek. Die federasie se Appèlraad het Senegal van die titel gestroop omdat hulle tydens die eindstryd van die veld gestap het nadat ‘n laat strafskop aan Marokko toegeken is. Die strafskop was mis en Senegal het in bykomende tyd een-nul gewen. Die federasie het verklaar Senegal het die wedstryd verbeur, maar die land beskou die besluit as onregverdig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-138-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-993-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….