Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met gholf: Kaptein Louis Oosthuizen plaas nie onnodige druk op homself of enige van sy Southern Guards GC-spanmaats wanneer ‘n LIV-gholftoernooi hierdie week die heel eerste keer in Suid-Afrika plaasvind nie. Meer as 90-duisend toeskouers sal van môre tot Sondag die toernooi in Steyn City in Johannesburg bywoon. Die Suid-Afrikaners Charl Schwartzel, Dean Burmester en Branden Grace is ook in die span. Oosthuizen sê hulle wil hulle tuisvoordeel laat geld:
# Rugby: Die stut Carlu Sadie en die slot JJ van der Mescht het ‘n virtuele Springbok-belyningskamp bygewoon voor die begin van die toetsseisoen. Die twee gewese Junior Bokke speel albei tans oorsee – Sadie vir Bordeaux Begles in Frankryk, en Van der Mescht vir Northampton Saints in Engeland. Hulle het by doe Bok-skrumskakel Herschel Jantjies aangesluit, wat laas in 2023 vir Suid-Afrika gespeel het. Ander Wêreldbekerwenners soos Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit, Lood de Jager, Faf de Klerk en Manie Libbok het ook deelgeneem.
Nog rugbynuus: Argentinië hoop om die Wêreldbekertoernooi in 2035 die eerste keer na Suid-Amerika te bring. Hy werk saam met die unies van Brasilië, Chile en Uruguay om hulle moontlik by die toernooi te betrek. Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Alan Gilpin, gaan die voorstel met die president van die Argentynse beheerliggaam, Gabriel Travaglini, bespreek. Travaglini sê hulle wil ‘n toernooi aanbied wat die passie en die vordering van rugby in die land weerspieël. Australië bied die toernooi volgende jaar aan en Amerika in 2031.
# Sokker: Senegal se beheerliggaam het bevestig hy gaan na die Arbitrasiehof vir Sport appelleer teen die Afrika-konfederasie se besluit om sy Afrikabeker-titel terug te trek. Die federasie se Appèlraad het Senegal van die titel gestroop omdat hulle tydens die eindstryd van die veld gestap het nadat ‘n laat strafskop aan Marokko toegeken is. Die strafskop was mis en Senegal het in bykomende tyd een-nul gewen. Die federasie het verklaar Senegal het die wedstryd verbeur, maar die land beskou die besluit as onregverdig.
En nog sokkernuus: Manchester City en Chelsea is uitgeskakel uit die Kampioeneliga. Die 15-malige kampioen, Real Madrid, het City 2-1 geklop in die tweede wedstryd van hulle ronde van 16-kragmeting vir ‘n algehele oorwinning van 5-1. Die verdedigende kampioen, Paris St‑Germain, het Chelsea 3-0 verslaan en met 8-2 deurgedring. Arsenal het die kwarteindronde gehaal met ‘n sege van 2-0 oor Bayer Leverkusen en 3-1 algeheel. Sporting maak ‘n geskiedkundige terugkeer nadat hulle 3-0 teen Bodø/Glimt verloor het, maar danksy die vorige oorwinning van 5-0 met 5-3 deurdring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….