Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig regter Sisi Khampepe het as voorsitter van die kommissie wat na die vervolgings van WVK-sake kyk, na bewering met die aanklaer saamgespan oor die formulering van ‘n saak. Oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma wil hê sy moet verwyder word as voorsitter.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die regterhand van die geskorste luitenant-generaal Shadrack Sibiya, sersant Fannie Nkosi het aan die Madlanga-kommissie gesê dat Sibiya waarskynlik nie reg kan onthou oor sy verhouding met die bendebaas Katiso Molefe nie.
En tweedens skryf die webblad noordelike dele van die Krugerwildtuin is opnuut oorstroom en die bestuur was genoop om sekere kampe te sluit.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens volgens ‘n verslag wat vrygestel is, vier bedrog en korrupsie hoogty in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Dan word berig president Cyril Ramaphosa word gekritiseer oor sy hantering van die WVK se sake.
En laastens is daar nuus oor 138 skole in Ekurhuleni wat die gevaar loop dat hul krag en water afgesny kan word.
# Sowetan:
Berig die voormalige lid van die polisie se taakmag, Matipandile Sotheni, wat in hegtenis geneem is vir die moord op die Madlanga-kommissie se Getuie D, is volgens die polisie gekies vir sy prestasie as skerpskutter.
# En The Citizen:
Skryf die regering beplan om taxibestuurders te finansier om sodoende beter padveiligheid te bewerkstellig en hulle te help met die hoë koste van instandhouding.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die verlenging van die Madlanga-kommissie en die 100-miljoen-rand wat daarvoor bewillig word. Die koerant skryf die verslag sal ook eers later bekend gestel word.
Dan skryf die koerant die NSRI was die afgelope naweek besig. Die instituut moes op ses voorvalle reageer waar hy ingegryp het om menselewens te red. Daar is van Houtbaai en Kommetjie tot by Simonstad opgetree.
En laastens word berig die metropolisie het ‘n taxibestuurder met lasbriewe van meer as 220-duisend-rand teen hom in ‘n padblokkade in Athlone vasgetrek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die hof kyk opnuut na die foto’s en besonderhede van die misdaadtoneel in die Terblanche-moordsaak.
En skryf Eskom se nuwe tariefverhoging van 8,76-persent wat in werking tree word wyd gekritiseer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens die lede van die staat se mediese fonds, GEMS, is ongelukkig oor ‘n verhoging van 9,8-persent in bydraes wat ingestel is. Die Vereniging van Staatsamptenare sê hulle sou 9,5-persent aanvaar.
En tweedens word berig daar bestaan kommer dat die stad se parke in informele nedesettings omskep word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar bestaan kommer oor ‘n nuwe sandmyn wat in die Dorob Nasionale Park in gebruik geneem is. Daar is talle vrae oor omgewingskade, eiendomsregte en mynbou binne ‘n nasionale park.
En tweedens skryf die koerant die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië het kommer uitgespreek oor die Verenigde Koninkryk se besluit om invoere van vars beesvleis uit Botswana op te skort.