Nuus 06:00
BULLETIN 17 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Midde-Oosterse konflik het die kollig op Suid-Afrikaanse hawens geplaas
# Eskom stel die Nersa-goedgekeurde tariefverhoging van 8,76-persent van volgende maand in
# En atletiek: Luvo Manyonga wil aan die Olimpiese Spele van 2028 deelneem nadat hy twee opkikkerskorsings uitgedien het
# President Cyril Ramaphosa sê die konflik in die Midde-Ooste het die kollig op Suid-Afrika se hawens en hul strategiese waarde geplaas. Die konflik het handel deur die Straat van Hormoes drasties ontwrig, ‘n belangrike skeepvaartroete nie net vir olie en gas nie, maar ook vir kunsmis. Afrikalande is baie afhanklik van kunsmisinvoere per see vanaf die Midde-Ooste. Ramaphosa sê wanneer groot skeepvaartroetes ontwrig word, het Suid-Afrika die geleentheid om homself as ‘n alternatiewe spilpunt te plaas:
# Eskom sê hulle sal die tariefverhogings instel wat deur die energiereguleerder, Nersa, vir die 2026/2027-boekjaar goedgekeur is. Regstreekse kliënte sal van 1 April af ‘n gemiddelde verhoging van 8,76-persent moet betaal, terwyl munisipale grootmaattariewe vanaf 1 Julie met 9-persent styg. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die aanpassing ondersteun bestendige elektrisiteitsvoorsiening, infrastruktuurbelegging en verbeterde finansiële bestuur. Mokwena sê gesubsidieerde tariewe vir lae-inkomste- en landelike huishoudings sal van krag bly.
# Fannie Nkosi van die Georganiseerde Misdaadeenheid van die SAPD in Gauteng, het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya, het geen beswaar gemaak teen die ontvangs van 20 rooibokke nie. Die bokke het in Maart 2024 van die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala gekom. Drie maande later is ‘n polisietender van 360-miljoen-rand aan hom toegeken. Sibiya het sedertdien ontken dat hy die kontrak beïnvloed het. Nkosi het getuig dat hy ‘n afleweringsadres vir die geskenke gegee het:
# ActionSA sê onlangse bewerings oor besteding aan watertenkwaens in Tshwane is misleidend. Die party voer aan die meeste van die kontrakte van 777-miljoen-rand hou verband met onbetaalde fakture van die vorige DA-geleide administrasie. Die stad het reeds 12-miljoen-rand per maand bespaar deur sy eie tenkwaens aan te skaf terwyl toegang tot kraanwater verhoog word. Michael Beaumont van ActionSA verwelkom die ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na die watertenkwa-mafia. Beaumont doen ’n beroep op die koalisieregering om aan te hou om Tshwane reg te ruk:
# Die minister van Buitelandse Sake van Kenia sê Rusland het ingestem om op te hou om Keniaanse burgers in die oorlog in Oekraïne te ontplooi. Musalia Mudavadi het die aankondiging gemaak na gesprekke in Moskou met sy Russiese eweknie, Sergei Lavrov. ‘n Keniaanse intelligensieverslag het vroeër gewaarsku meer as ‘n duisend burgers is gewerf om vir Rusland te veg. Volgens Oekraïnse intelligensie is meer as een-duisend-700 mense uit 36 lande in Afrika gewerf om vir Rusland te veg. Suid-Afrika het onlangs 17 burgers gerepatrieer wat in Oekraïne vasgekeer was nadat hulle mislei is om vir Rusland te veg.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse verspringer Luvo Manyonga sê hy bly vasbeslote om homself beskikbaar te stel vir die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles. Die 35-jarige, wat ‘n silwermedalje by die Olimpiese Spele van 2016 in Rio de Janeiro verower het, sal na ‘n sewe jaar lange onderbreking na die internasionale verhoog terugkeer. Hy is gekies in die Suid-Afrikaanse groep om hierdie naweek aan die Wêreldbinnenshuise Kampioenskap in Torun, Pole, deel te neem. Manyonga, wat twee opkikkerskorsings uitgedien het, sê hy is gereed om weer internasionaal mee te ding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-783-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….