Nuus 14:00
BULLETIN 16 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie verduidelik sy besluit oor getuie F se openbare getuienis
# Die VF Plus sê daar is geen politieke wil om die finansiële krisis in Johannesburg te erken nie
# En rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, hou vol hy is die regte man vir die werk
# Die Madlanga-kommissie het verduidelik waarom getuie F nou in die openbaar sal getuig en nie agter geslote deure nie. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga sê die getuie, Fannie Nkosi van die Gautengse polisie se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad, is herhaaldelik genoem tydens vroeëre getuienis en bewyse. Madlanga sê dit maak dit onprakties om Nkosi se identiteit weg te steek, daarom is besluit om sy getuienis in ‘n oop sitting te hervat:
Intussen verwelkom getuie D, Marius van der Merwe, se gesin die inhegtenisneming van ‘n verdagte vir sy moord voor sy huis in Brakpan nadat hy amptenare van Ekurhuleni se Metropolisie betrek het. Van der Merwe se suster, Natasha, het voor die plaaslike Landdroshof die beproewing as traumaties beskryf en sê die saak het ‘n ernstige emosionele uitwerking op die familie, veral sy kinders:
# Die Vryheidsfront Plus in Johannesburg sê daar is geen politieke wil om die metro se haglike finansiële verknorsing te erken of op te los nie. Opposisiepartye het Donderdag die ANC verhoed om die aanpassings-begroting vir 2025/26 deur te voer. Baie van die teenkanting teen die begroting was weens oorbesteding van 1,35-miljard-rand aan personeelverwante uitgawes. Die VF Plus sê die begroting dien nie die doel waarvoor dit bedoel is nie.
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika is bekommerd oor die toekoms van die mynbousektor nadat belegging in mynbou-verkenning die sewende agtereenvolgende jaar gedaal het. Statistieke Suid-Afrika toon verkennings-besteding het in 2025 met 5,3-persent gedaal tot 738-miljoen-rand. Die raad sê dis mynbou se lewensaar en waarsku hierdie afname bedreig toekomstige projekte omdat lande soos Zambië en die Demokratiese Republiek die Kongo meer befondsing lok.
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, hou vol hy is die regte man vir die werk. Engeland het vanjaar vier Sesnasies-wedstryde verloor en vyfde geëindig in hul swakste vertoning ooit. Frankryk is as kampioen gekroon. Die Engelse Rugbyvoetbalunie gaan nou Borthwick en die span se vertoning ontleed, maar die afrigter is oortuig hy is die regte man om die span vorentoe te lei met die oog op 2027 se Wêreldbekertoernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-442-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-984-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….