Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-sewesafrigter Philip Snyman is uiters trots op sy span se weiering om moed op te gee. Die Blitsbokke het Fidji 10-7 verslaan om die Amerikaanse toernooi in New York te wen en die Wêreldsewesreeks-titel te beklink. Snyman het hulle geprys vir hul bereidwilligheid om nuwe spelers te aanvaar om spandiepte te bou. Hy sê daar is nog baie op die spel in die drie oorblywende toernooie van die Wêreldkampioenskap:
Nuus van die 15-man-spel: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, hou vol hy is die regte man vir die werk. Engeland het vanjaar vier Sesnasies-wedstryde verloor en vyfde geëindig in hul swakste vertoning ooit. Frankryk is as kampioen gekroon. Die Engelse Rugbyvoetbalunie gaan nou Borthwick en die span se vertoning ontleed, maar die afrigter is oortuig hy is die regte man om die span vorentoe te lei met die oog op 2027 se Wêreldbekertoernooi:
# Motorsport: MotoGP het bevestig dat die Katarse Grand Prix, wat oorspronklik volgende maand sou plaasvind, tot 8 November uitgestel is weens die voortgesette geopolitieke situasie in die Midde-Ooste. Die Portugese Grand Prix sal nou op 22 November plaasvind, met die seisoen se laaste wedren in Valencia wat na 29 November skuif. MotoGP se uitvoerende hoof, Carmelo Ezpeleta, sê die besluit is hoofsaaklik geneem om die veiligheid, welstand en ‘n geleentheid van die allerbeste gehalte vir alle deelnemers en bywoners te verseker.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het sy eerste Indian Wells-titel verower en is nou, naas Novak Djokovic en Roger Federer, slegs die derde man om al ses Meesters-een-duisendtrofees in te palm. Die Italianer het die Rus Daniil Medvedev verslaan. Die voorste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, het ook haar eerste Indian Wells-titel ingepalm toe sy Elena Rybakina van Kazakstan geklop het. Sinner is opgewonde oor sy eerste titel vanjaar:
En laastens, die wêreld-nommer-drie, Novak Djokovic, het hom aan die Miami Ope in Amerika onttrek weens ‘n skouerbesering. Die 38-jarige Serwiër het verlede week aan die Indian Wells-meesterstoernooi deelgeneem, waar hy in die vierde ronde teen die Brit Jack Draper verloor het. Dit was sy eerste toernooi sedert hy in Januarie teen die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, verloor het in die eindstryd van die Australiese Ope. Djokovic het die titel in Miami ses keer gewen. Die tweede toernooi van die sogenaamde Sonskyn Dubbel begin môre.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….