Nuus 06:00
BULLETIN 13 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan die Madlanga-verslae terughou
# ‘n Voormalige Steinhoff-ouditeur ontvang ‘n boete van twee-miljoen-rand
# En ‘n graad 9-leerder word op ’n skoolterrein doodgesteek
# President Cyril Ramaphosa sê hy gaan nog nie die tussentydse verslag van die Madlanga-kommissie vrystel nie, aangesien daar kommer is dat voortgesette ondersoeke en getuies in gevaar gestel kan word. Hy het die verslag in Desember ontvang en die tweede tussentydse verslag tot 29 Mei en die finale verslag tot 31 Augustus uitgestel. Ramaphosa het op vrae in die Nasionale Vergadering geantwoord en gesê die bevindinge sal bekend gemaak word sodra die kommissie sy werk voltooi het:
Ramaphosa het die Parlement ook verseker die aanbevelings van die Madlanga-kommissie sal ingestel word. Die kommissie ondersoek misdaad, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Ramaphosa het gesê regsprosesse is reeds aan die gang om diegene wat betrek word, in hegtenis te neem. Hy beklemtoon die regering is daartoe verbind om op te tree op grond van die kommissie se bevindinge om die oppergesag van die reg te versterk:
# Die voormalige Steinhoff-ouditbestuurder, Hein Odendaal, is deur die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof gevonnis nadat hy skuldig gepleit het. Odendaal is ‘n boete van twee-miljoen-rand, of vier jaar tronkstraf, plus ‘n bykomende opgeskorte vonnis van twee jaar en een jaar korrektiewe toesig opgelê. Die woordvoerder van die Valke, Katlego Mogale, sê Odendaal het versuim om bedrog aan te meld wat tot vals finansiële state gelei het. Hy is die vyfde Suid-Afrikaner wat skuldig bevind is in die voortgesette Steinhoff-skandaal.
# ‘n Graad 9-leerder van die Badirile Secondary School in Khutsong, Carletonville, is dood nadat hy glo gister deur ‘n ander leerder op die skoolterrein gesteek is. Volgens die Gautengse Departement van Onderwys het ‘n graad 10-leerder na bewering die graad 9-seun tydens ‘n woordewisseling gesteek, wat ernstige beserings veroorsaak het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die beseerde leerder het by ‘n plaaslike mediese fasiliteit aan sy beserings beswyk:
# Iran se nuwe opperleier, ajatolla Mojtaba Khamenei, sê die regime sal die bloed wreek van diegene wat in Amerikaanse en Israelse aanvalle dood is. Hy is die opvolger van sy pa, ajatolla Ali Khamenei, wat op die eerste dag van die oorlog op 28 Februarie dood is. In sy eerste verklaring sedert hy leier geword het, sê Khamenei die kritieke Straat van Hormoes sal gesluit bly om druk op die VSA en Israel uit te oefen. Hy het herhaal dat Iran slegs Amerikaanse basisse in omliggende lande teiken, en daarop aangedring dat hulle gesluit moet word.
# Rugby: Die veelsydige Springbok-voorspeler Deon Fourie sien uit na sy terugkeer na die Stormers in môre se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Bulle in Pretoria. Fourie was vir twee jaar buite aksie weens ‘n besering, waartydens hy ernstig oorweeg het om uit te tree. Die 39-jarige sê hy is baie dankbaar om terug te wees. Hy sê sy eerste doelwit is om die ontmoeting op ‘n volgepakte Loftus Versfeld sonder beserings te voltooi. Die Stormers sal op hom staat maak om hulle te help om hul tradisionele vyand te klop nadat hulle drie agtereenvolgende wedstryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-140-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-86-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….